Polokwane-waterkrisis: Herhaalde skending van menseregte is onaanvaarbaar, sê AfriForum
Die voortslepende watertoevoerprobleme in Polokwane, wat op ’n ernstige, weeklange wateronderbreking in sommige dele van dié stad uitgeloop het, is volgens AfriForum ’n onaanvaarbare skending van inwoners se grondwetlike reg op toegang tot basiese watervoorsiening. AfriForum se Pietersburg-tak eis daarom dringende en deursigtige optrede van die Polokwane Plaaslike Munisipaliteit, die staatsbeheerde entiteit Lepelle Northern Water en die provinsiale regering te midde van dié waterkrisis.
Dele van Polokwane sit al langer as ’n week sonder enige water, ondanks herhaalde beloftes deur owerhede dat die situasie onder beheer is. Wat begin het as ’n onbeplande kragonderbreking ná beplande instandhoudingswerk het geëskaleer tot verskeie gebarste pype en waterlekkasies. Die beraamde tyd om watertoevoer aan al Polokwane se inwoners te herstel, is onbepaald.
AfriForum het reeds in Junie met die Polokwane-munisipaliteit vergader, waarin amptenare die burgerregteorganisasie verseker het dat die watervoorsieningsprobleme teen dié tyd opgelos sou wees. Maande later staar inwoners steeds dieselfde – en selfs erger – omstandighede in die gesig.
AfriForum het verlede week ’n skrywe aan dr. Phophi Ramathuba, premier van Limpopo, en dr. Cornelius Ruiters, uitvoerende hoof van Lepelle Northern Water, gerig waarin onmiddellike ingryping geëis word om die watertekorte en onbetroubare watervoorsiening die hoof te bied. Hierdie amptenare het egter weinig gedoen om ’n duidelike aksieplan met tydlyne vir die herstel van betroubare en deurlopende watervoorsiening aan gemeenskappe te verseker.
“Die feit dat die inwoners van hierdie stad vir byna ’n week sonder water moet oorleef, is ’n skending van hul reg op toegang tot voldoende watervoorsiening. Die Grondwet waarborg hierdie reg, daarom kan dit nie bloot verontagsaam word deur institusionele ondoeltreffendheid of swak bestuur nie,” sê Hendrik Kotzé, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo.
Lepelle Northern Water het self erken dat die watervoorsieningsprobleme te wyte aan herhaalde meganiese foute, gebarste pypleidings, kragonderbrekings en verouderde infrastruktuur by die Ebenezer- en Olifantspoort-stelsels is – die hoofbronne vir Polokwane se water. Tzaneen ervaar intussen soortgelyke probleme, aangesien Lepelle ook daar die waterverskaffer is.
AfriForum het daarom ’n hernieude beroep op owerhede gedoem om ’n onafhanklike tegniese oudit van Lepelle se infrastruktuur, insluitend die Ebenezer- en Olifantspoort-stelsels te doen sodat ’n werkbare aksieplan saamgestel kan word; deursigtige en gereelde kommunikasie aan inwoners te bied; en saam met burgerlike strukture, insluitend AfriForum, te werk om toesig oor waterbestuur te verbeter.
“AfriForum verteenwoordig duisende lede in Limpopo wat direk deur hierdie krisis geraak word. Die burgerregteorganisasie is daarom bereid om hierdie saak na die departement van Water en Sanitasie te eskaleer en, indien nodig, regstappe te doen om die nakoming van diensleweringsverpligtinge te verseker indien geen betekenisvolle vordering gemaak word nie,” sluit Kotzé af.



