Benoni-buurtwag help vermeende diewe se planne fnuik
AfriForum se Benoni-buurtwag het die afgelope paar weke wetstoepassers en privaat veiligheidsdienste gehelp om vermeende motordiewe in hul spore te stuit. Dié buurtwag het boonop gehelp om verdagtes vas te trek wat glo oor die jare heen met verskeie huisbrake in die gebied verbind word. Die buurtwag en sy uitgebreide kamerastelsel wat vanuit ’n sentrale beheerkamer gemonitor word, het as ’n belangrike magsvermenigvuldiger gedien in die voortdurende stryd teen misdaad in die Oos-Rand.
Privaat veiligheidsdienste, waaronder AfriForum se Benoni-buurtwag, is onlangs na ’n motorskou in Benoni ontbied waar hulle op vermeende motordiewe toegeslaan het, wat besoekers aan die skou se voertuie probeer buit het. Danksy die ingryping van die betrokke veiligheidsdienste soos LGEP, NoJack Vehicle Tracking én AfriForum se Benoni-buurtwag, is geen van die voertuie gesteel nie.
Die verdagtes het op die vlug geslaan, maar een van hul voertuie agterlaat. Daarin is verskeie stelle vervalste nommerplate gevind, asook ander toerusting wat vermoedelik gebruik word vir motordiefstal. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het op die toerusting beslag gelê en ondersoek die saak verder.


AfriForum se Benoni-buurtwag het ook broodnodige bystand gebied in die inhegtenisneming van twee verdagtes wat glo vroeër dieselfde dag probeer het om by twee huise in Atlasville in te breek.
Volgens die plaaslike Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het die inbrake minute uitmekaar plaasgevind. Nadat die inwoners van een van dié huise alarm gemaak het, was privaat veiligheidsdienste ontbied om op die uitkyk vir ’n wit Toyota te wees. Die registrasienommer van die betrokke voertuig is aan AfriForum se beheerkamer aan die Oos-Rand deurgegee en operateurs het deur middel van tweerigtingradio’s en ander kommunikasiekanale AfriForum se buurtwaglede, asook privaat sekuriteit deurgaans op hoogte gehou van die voertuig se bewegings.
GPF-lede het die voertuig gewaar en agternagesit, maar die verdagtes het hul op die N12 ontduik. Die privaat veiligheidsmaatskappy LGEP het kort daarna dié voertuig op Atlasweg gewaar en daarin geslaag om die verdagtes van die pad af te trek. Die lede het die verdagtes aangehou terwyl AfriForum se Benoni-buurtwag, asook ander veiligheidsdienste en wetstoepassers ontbied is.
Verskeie items wat algemeen gebruik word om huisbrake uit te voer, insluitend handskoene, asook ’n vervalste stel voertuiglisensies is in die verdagtes se motor gevind. Die verdagtes en die inhoud van hul voertuig is aan die Ekurhuleni-metropolisie oorhandig, wat die saak verder ondersoek.
“Hierdie suksesse beklemtoon opnuut die waarde van samewerking en vinnige kommunikasie tussen rolspelers in die veiligheidsbedryf. Wanneer gemeenskappe saamstaan, kan misdaad doeltreffend bekamp word,” sê Archie Mouyis, voorsitter van AfriForum se Benoni-tak.
AfriForum doen ’n beroep op inwoners om waaksaam te bly, verdagte aktiwiteite onmiddellik aan te meld en by plaaslike veiligheidstrukture betrokke te raak. Klik hier vir meer inligting.



