| | | | |

Onderwys-streeksbesoek rus Oos-Kaapse leerders toe met emosionele welstand- en debatsvaardighede

AfriForum se onderwysspan het hierdie jaar ’n verskerpte fokus op skole deur die beskerming, ontwikkeling en ondersteuning van onderwysers, leerders en ouers.  Skole is die hartklop van gemeenskappe en is daarom vir AfriForum baie belangrik dat skoolgemeenskappe voordurend bygestaan moet word. Die onderwysspan het hierdie jaar ses beplande streeksbesoeke om skole reg oor die land deur die loop van die jaar te bereik. Die eerste van hierdie besoeke het verlede week van 8 tot 10 April in die Oos-Kaap plaasgevind.

As deel van hierdie besoek het AfriForum se onderwysspan onder meer gepoog om skole en skoolgemeenskappe aan AfriForum se verskeie skoleprojekte – soos die teenboelieveldtog en die Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie bloot te stel. Volgens Carien Bloem, hoof van Onderwysprojekte by AfriForum, was dít nie die enigste doel nie. “Ons wou ook graag met hierdie besoeke vasstel wat skole se behoeftes is en hoe ons as AfriForum verdere ondersteuning vir skole en skoolgemeenskappe kan bied.”

Gedurende hierdie drie-dag besoek is agt teenboelie-sessie aangebied onder meer by Laerskool Verkenner in Port Elizabeth, Laerskool Susanna Fourie, Laerskool Frans Conradie en Laerskool Sonop in Dispatch, asook Laerskool Ooskus Gimnasium in Oos-Londen.

Die teenboelieveldtog het ten doel om leerders toe te rus met die nodige vaardighede om boeliegedrag te herken, te hanteer en te voorkom. Met hierdie aanbiedings is meer as 2 000 leerders oor drie dae bereik.

“Boeliegedrag in skole móét aangeroer word, want dit steel kinders se selfwaarde, veiligheid en toekoms en daarom is ’n doelgerigte teenboelieveldtog ’n noodsaaklikheid om ’n kultuur van respek, beskerming en menswaardigheid te bou. Met ons gelukbringer, Matteus, as ons gids trek ons die wapenrusting van God aan, en leer kinders op ’n speelse, interaktiewe manier dat ware krag nie by die boelie lê nie, maar in beskerming, waarheid en moed,” sê Mari-Louise Erasmus, AfriForum Onderwys se noordstreekkoördineerder en aanbieder van die teenboelie-aanbiedings.

Die Oos-Kaapse uitdunrondtes van die Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie het ook op 8 April by Hoërskool Framesby plaasgevind. ’n Totaal van 24 spanne het aan 39 debatte oor uiteenlopende onderwerpe en temas deelgeneem.

Beide Hoërskool Framesby se junior- en seniorspanne het as wenners uit dié debatstryd getree.

Die Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie in samewerking met hul vennote; Netwerk24, Akademia en die gasheerskole in elke provinsie vorm deel van AfriForum se volgehoue poging om kritiese denke, selfvertroue en gesonde sosiale interaksie deur middel van debatvoering onder jongmense te bevorder.

“AfriForum is trots daarop om hierdie jaar die tiende bestaansjaar van dié onvoorbereide debatskompetisie te vier en dit is wonderlik om te sien hoe die kompetisie gegroei en uitgebrei het oor die afgelope dekade en dat leerders elke keer steeds opgewonde is om deel te neem,” sê Nicolene Müller, AfriForum Onderwys se suidstreekkoördineerder en koördineerder van die Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie.

Die Onderwysspan se volgende streeksbesoek vind van 4 tot 8 Mei in die Wes-Kaap plaas.

Stuur gerus ’n e-pos na onderwys@afriForum.co.za as ons jou skool kan kom besoek.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners