|

AfriForum vra premier om by Modimolle-Mookgophong se munisipale verval in te gryp

AfriForum het ’n beroep op dr Phophi Ramathuba, die premier van Limpopo, gedoen vir dringende optrede teen die voortgesette ineenstorting van dienslewering en bestuur in die Modimolle-Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit in Limpopo. Dié versoek volg nadat die organisasie vroeër vandeesmaand in ’n brief aan die departement van Samewerkende Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake (Cogta) ingryping geëis het maar geen reaksie ontvang het nie.

Inwoners van Modimolle en Mookgophong ervaar reeds maande lank ’n groeiende humanitêre- en gesondheidskrisis. Modimolle sukkel met voortdurende wateronderbrekings, gebarste pypleidings en ’n onbeheerde onwettige stortingsterrein wat omgewingsgevare en gesondheidsrisiko’s vir omliggende gemeenskappe skep.

In Mookgophong het die vullisverwyderingsdienste feitlik tot stilstand gekom met onreëlmatige verwyderings en gebrekkige bestuur. Die boorgate wat drinkwater aan inwoners moet voorsien, funksioneer swak weens lekkasies en swak instandhouding, wat die watertekorte verder vererger. Hierdie gebrekkige dienslewering skend inwoners se grondwetlike regte tot skoon water, sanitasie en ’n gesonde omgewing.

Die herhaalde skorsing en rotasie van waarnemende munisipale bestuurders het volgens AfriForum ook ’n toestand van voortdurende administratiewe onstabiliteit geskep. Dié onbestendigheid het tot die verval van basiese stelsels gelei en gemeenskappe aan hul eie lot oorgelaat.

Hendrik Kotzé, AfriForum se provinsiale koördineerder in Limpopo, sê die organisasie het reeds op 14 Oktober ’n formele brief aan Basikopo Makamu, LUR vir Cogta, gerig waarin dringende optrede in terme van artikel 139 van die Grondwet versoek is om stabiliteit te herstel. Ná geen reaksie nie, is ’n brief op 22 Oktober aan die premier gestuur.

“Cogta se stilte is onaanvaarbaar. Tydens hierdie totale verval gaan duisende inwoners sonder basiese dienste voort – sonder water, sonder behoorlike vullisverwydering en sonder enige aanspreeklikheid. Die inwoners van Modimolle en Mookgophong verdien beter,” sê Kotze.

AfriForum het die premier versoek om Cogta te verplig om onmiddellik skriftelik te reageer op die organisasie se korrespondensie en om die aksies wat tot dusver geneem is, uiteen te sit; om ’n provinsiale ondersoek van stapel te stuur na die oorsake van die munisipaliteit se wanfunksionele administrasie; om artikel 139 toe te pas indien bevind word dat die munisipaliteit nie sy uitvoerende pligte nakom nie; en om ’n vergadering tussen die premier se kantoor, AfriForum en betrokke amptenare te fasiliteer om praktiese oplossings te bespreek.

AfriForum beklemtoon dat dit tot konstruktiewe samewerking verbind bly, maar dring daarop aan dat die provinsiale regering dringend moet ingryp om inwoners se grondwetlike regte te beskerm.

“Ons sal nie toekyk hoe ’n munisipaliteit ten volle in duie stort terwyl owerhede hul skouers ophaal nie. Ons gaan voort om druk toe te pas totdat daar tasbare verbeterings in dienslewering is,” voeg Kotze by.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf