Nuwe waterplan, ou probleem: Regering vermy steeds verantwoordelikheid
Die presidensie se nuwe nasionale wateraksieplan bevestig wat gemeenskappe, waterkundiges en toesighoudende instellings al jare lank sê: Suid-Afrika se waterkrisis spruit uit mislukte munisipaliteite, verwaarloosde infrastruktuur, swak finansiële bestuur en ’n algehele gebrek aan aanspreeklikheid. Volgens AfriForum is die plan se grootste swakpunt dat dit reeds bekende oplossings herverpak sonder om te bewys dat die regering werklik bereid is om dit af te dwing.
President Cyril Ramaphosa het die plan bekendgestel ná ’n vergadering van die nasionale waterkrisiskomitee, ook bekend as Watercom. Die plan stel ingrypings voor soos die afsondering van munisipale waterinkomste, die vermindering van waterverliese, die lisensiëring van waterdiensverskaffers, groter beleggings in infrastruktuur, die uitbreiding van die privaat sektor se deelname én optrede teen korrupsie en kriminaliteit in die watersektor.
AfriForum voer aan dat die bestaande wetlike raamwerk reeds dit moontlik maak vir goed bestuurde munisipaliteite om betroubare water- en sanitasiedienste te lewer. Sommige munisipaliteite kan selfs binne die huidige stelsel infrastruktuur onderhou, inkomste beskerm en bevoegde tegniese personeel aanstel. Dit toon dat munisipale mislukkings met betrekking tot waterverskaffing nie hoofsaaklik veroorsaak word deur ’n gebrek aan wette of planne nie, maar deur swak implementering, ’n gebrek aan gevolgbestuur en politieke onwilligheid om teen mislukte instellings op te tree.
Die nasionale wateraksieplan identifiseer die huidige munisipale diensleweringsmodel as ’n hoofoorsaak van die krisis. AfriForum waarsku dat hierdie formulering die risiko loop om aandag weg te skuif van jare se wanbestuur, verwaarlosing en gebrek aan aanspreeklikheid op munisipale vlak.
“Die skeiding van die rolle van waterowerhede en waterdiensverskaffers, soos die plan voorstel, kan help waar munisipaliteite nie in staat is om self dienste te lewer nie. Dit sal egter nie die krisis oplos as dieselfde bestuursmislukkings, politieke inmenging, swak verkrygingspraktyke en die afwesigheid van gevolgbestuur bloot na ’n nuwe struktuur oorgedra word nie,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake.
“Dieselfde geld vir die privaat sektor se deelname. Privaat kundigheid en befondsing kan ’n positiewe rol speel in die herstel van waterdienste, veral waar munisipaliteite nie tegniese kapasiteit het nie. Sonder deursigtige verkryging, afdwingbare prestasiestandaarde en werklike aanspreeklikheid kan openbare-private vennootskappe egter nog ’n geleentheid vir uitbuiting word eerder as ’n werklike oplossing vir gemeenskappe.”
Volgens De Klerk illustreer die plan se eie teiken vir nie-inkomste-water die probleem. Die regering se eie rekords toon dat munisipaliteite byna die helfte van die water wat deur hul stelsels gepomp word, verloor of versuim om daarvoor rekenskap te gee. Tog beoog die plan om hierdie syfer eers teen 2031 tot 39,5% te verminder. AfriForum sê só ’n teiken bevestig die omvang van die krisis, maar weerspieël nie die dringendheid wat gemeenskappe ervaar wat met droë krane, rioolbesoedeling en onbetroubare watervoorsiening leef nie.
Die president se vergelyking tussen die waterkrisis en die regering se reaksie op beurtkrag moet ook met ’n knippie sout geneem word. Die einde van gereelde beurtkrag is nie net deur Eskom gefasiliteer nie, maar was ook die gevolg van ’n laer vraag na krag, meer privaat kragopwekking en huishoudings en ondernemings wat hul eie geld aan sonkrag bestee het. Verouderde infrastruktuur en diep institusionele swakhede by Eskom het nie verdwyn nie. As dit die model vir water is, moet Suid-Afrikaners nog ’n krisis verwag wat sleg bestuur word eerder as werklik by die bron opgelos word.
AfriForum wys verder daarop dat die regering lank reeds wetlike meganismes het om in te gryp waar munisipaliteite versuim om hul verpligtinge na te kom. Die werklike toets is dus nie of Watercom nog ’n plan kan opstel nie, maar of die nasionale regering bestaande magte sal gebruik om munisipaliteite, munisipale bestuurders en politici in hul persoonlike hoedanigheid aanspreeklik te hou sodat belastingbetalers nie verder gestraf word nie.
Die ouditeur-generaal van Suid-Afrika het reeds ’n gebrek aan aanspreeklikheid sowel as swak onderhoud, beplanning en koördinering as kern oorsake van die waterkrisis geïdentifiseer. AfriForum se eie 2025 Watergehaltewaarnemingsverslag het bevind dat 86% van rioolsuiweringsaanlegte wat deur die organisasie getoets is, ten tyde van toetsing besoedelde uitvloeisel in waterbronne afgelaat het.
“Suid-Afrika het nie ’n tekort aan planne om die waterkrisis aan te pak nie, maar wel ’n gebrek aan aanspreeklikheid. Dieselfde regering wat toegelaat het dat munisipale waterstelsels verval, beloof nou om daardie munisipaliteite aanspreeklik te hou. Tensy die nasionale regering bereid is om werklik teen mislukte munisipaliteite en amptenare op te tree, selfs waar daardie mislukkings binne die regerende party se eie strukture lê, sal die Nasionale Wateraksieplan nog ’n dokument word wat die krisis beskryf sonder om dit op te los,” sê De Klerk.
AfriForum sal die nasionale wateraksieplan in detail bestudeer, voortgaan om die gehalte van drinkwater en afvalwater deur sy Watergehaltewaarnemingsprojek te monitor en die regering bly aanpor vir meetbare implementering.



