AfriForum eis antwoorde oor Mohokare-munisipaliteit se R135 miljoen Eskom-skuld en beoogde skuldooreenkoms
AfriForum het die Mohokare Plaaslike Munisipaliteit Vrydag sewe werksdae gegee om antwoorde te gee oor die redes vir die munisipaliteit se reuse- opgehoopte skuld aan Eskom wat nou dreig om Zastron, Rouxville en Smithfield in duisternis te hul. Die organisasie eis in ’n brief aan Mopedi Mohale, waarnemende burgemeester van die Mohokare-munisipaliteit, duidelikheid oor hoe die skuld – ten bedrae van R135 miljoen – opgebou het en wat die status en bepalings van die beoogde ooreenkoms vir die afbetaling van dié skuld is.
Luidens mediaberigte het Eskom die munisipaliteit reeds op 4 Julie skriftelik in kennis gestel dat kragtoevoer na die munisipaliteit opgeskort sou word indien die agterstallige rekening nie teen Vrydag 17 Julie betaal sou word nie. Sedertdien het Eskom egter blykbaar van deuntjie verander en gedreig om die krag te sny indien daar nie ’n afbetalingsooreenkoms tussen die kragvoorsiener en die munisipaliteit bereik word nie. Daar is voorts berig dat die munisipaliteit tans met Eskom oor die afbetaling van skuld onderhandel, maar dat raadslede en inwoners min of geen terugvoer oor die proses ontvang nie.
Benewens inligting oor die ophoping van skuld en die afbetalingsooreenkoms wat na bewering onderhandel word, eis AfriForum spesifieke besonderhede oor die uitstaande skuldbedrag, rente wat daarop gehef is en enige ander bykomende koste wat daarop bygereken word. Die organisasie versoek ook ’n afskrif van Eskom se oorspronklike skrywe van 4 Julie; bevestiging van of die opskorting van kragvoorsiening nog in die vooruitsig gestel word; en verbeterde kommunikasie met inwoners oor die situasie en die beoogde herstelplan om ’n herhaling van die skuldprobleem te voorkom.
Volgens Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein, is dit onaanvaarbaar dat inwoners en ondernemings wat hul Eskom-rekeninge getrou betaal, moontlik die gevolge van die munisipaliteit se finansiële wanbestuur moet dra. Inwoners het die reg om te weet hoe die skuld opgebou het, wat die huidige onderhandelinge behels en of kragtoevoer in gedrang is,” verduidelik hy.
Die Mohokare-munisipaliteit se Eskom-skuldfiasko volg kort op die hake van die nasionale Tesourie se aankondiging vroeër vandeesmaand dat dié munisipaliteit, sowel as 68 ander sukkelende munisipaliteite, se billike-aandeel-toelaag weens volgehoue finansiële wanbestuur tydelik teruggehou is.
“Die munisipaliteit kan nie voortgaan om belangrike finansiële besluite agter geslote deure te neem terwyl inwoners die risiko van kragonderbrekings dra nie. Deursigtigheid en daadwerklike optrede is nou noodsaaklik,” sê Groenewald.
AfriForum waarsku dat hy gereed is om die saak na Eskom, die provinsiale Tesourie en die Vrystaatse Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake te eskaleer indien die munisipaliteit sou versuim om binne die vasgestelde tydperk bevredigend op sy navrae te antwoord.
AfriForum pak onbevoegde munisipale bestuur
Swak munisipale bestuur lei tot die ineenstorting van dienslewering. Voeg jou stem hier by AfriForum se stryd teen onbevoegde munisipale bestuur.



