|

Nersa, laat staan ekstra reëls vir sukkelende munisipaliteite, dwing eerder bestaande magte af – AfriForum

Klankgreep: Morné Mostert (Afrikaans)
Klankgreep: Morné Mostert (Engels)

AfriForum waarsku dat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se pogings om die land se kragverspreidingskrisis in sukkelende munisipaliteite met die implementering van bykomende verslagdoeningsvereistes op te los, futiel sal wees. Die burgerregteorganisasie voer in sy omvattende kommentaar op die reguleerder se voorgestelde implementering van sleutelprestasie-aanwysers (KPI’s) aan dat die reguleerder sy KPI-plan moet laat vaar en eerder die bestaande wetgewing moet toepas en vasgestelde standaarde moet navolg om verspreidingsprobleme in munisipaliteite die hoof te bied. AfriForum het vandag sy kommentaar op die plan ingedien.

Volgens Morné Mostert, bestuurder vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum, steun AfriForum Nersa se doelwit om die gehalte en betroubaarheid van munisipale kragvoorsiening te verbeter, maar hou vol dat daar reeds oorgenoeg tegniese standaarde, regulatoriese magte en lisensievoorwaardes is om dié doelwit te bereik. AfriForum benadruk dat die probleem nie die tekort aan magte en voorwaardes is nie, maar eerder die konsekwente monitering en afdwinging daarvan.

“Die ineenstorting van munisipale elektrisiteitsinfrastruktuur is nie die gevolg van ’n gebrek aan regulasies nie. Dit is die gevolg van ’n gebrek aan regulatoriese afdwinging. Nersa is rééds by magte om munisipaliteite te ondersoek, lisensievoorwaardes af te dwing en lisensies op te skort of te herroep as munisipaliteite herhaaldelik versuim om hul verpligtinge na te kom. In plaas daarvan om nóg ’n verslagdoeningsraamwerk te skep, moet die reguleerder eerder die bevoegdhede wat hy reeds het, gebruik.”

AfriForum het al voorheen regstappe gedoen om Nersa te dwing om ’n tribunaal byeen te roep om die oortreding van munisipaliteite se lisensievoorwaardes te ondersoek. Dit wys volgens die burgerregteorganisasie daarop dat uitdagings in die sektor nie spruit uit die afwesigheid van regsgesag nie, maar uit die inkonsekwente uitoefening daarvan.

AfriForum stel in sy voorlegging voor dat Nersa verpligte tegniese nakomingsoudits moet instel om te bepaal of munisipaliteite hul bestaande lisensievoorwaardes, die erkende tegniese standaarde en statutêre verpligtinge nakom. Daarbenewens stel die organisasie die implementering van omsigtigheidsassesserings voor om die doeltreffendheid en verantwoordelike en finansieel volhoubare bestuur van munisipaliteite se kragverspreidingsoperasies te bepaal.

Nersa behoort, volgens Mostert, ook groter klem te plaas op voldoeningsverifikasie, afdwinging en aanspreeklikheid, en voer aan dat betekenisvolle verbetering in kragverspreiding slegs sal plaasvind wanneer munisipaliteite aanspreeklik gehou word vir hul versuim om te voldoen aan die standaarde wat reeds daargestel is.

“Gemeenskappe het nie nog verslae nodig wat bloot bevestig dat hul munisipaliteit misluk nie. Hulle het ’n reguleerder nodig wat sal optree wanneer munisipaliteite misluk. Prestasie-aanwysers behoort as vroeë waarskuwing te dien wat lei tot regulatoriese ingryping. Dit mag nie net nog ’n stel statistiek wees wat die voortgesette agteruitgang van munisipaliteite se elektrisiteitsinfrastruktuur dokumenteer nie,” sluit Mostert af.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik