|

Noordwes premier se stilswye oor dienslewering laat veel te wense

Die premier van Noordwes se maand lange stilswye oor die dienslewerings- en infrastruktuurkrisis wat tans in die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit afspeel laat by AfriForum vrae ontstaan oor die prioriteit wat die provinsiale regering gee aan die basiese funksionering van plaaslike munisipaliteite.

Die verval van veral Ottosdal, Delareyville en Sannieshof en die munisipaliteit se traagheid om sake reg te ruk hou volgens die burgerregteorganisasie ernstige gevolge in vir inwoners. Voortslepende probleme soos rioolvuil in strate, onwettige storting van vullis, onbetroubare vullisverwydering, swak vullisterreinbestuur, vervalle paaie en swak en onbetroubare watervoorsiening is van die belangrikste probleme waarmee inwoners daagliks te kampe het.

AfriForum het die munisipaliteit al telkens gewys op die omvangryke verval van dié dorpe en aangebied om deur middel van ’n samewerkingsooreenkoms bystand te verleen. Die versoek om formele samewerking is van die hand gewys en pogings om die bekommernisse rakende dienslewering en infrastruktuur met die munisipaliteit op te neem, is geïgnoreer. AfriForum beskou daarom die premier se ingryping by die situasie as noodsaaklik.

Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Stellaland, sê ten spyte van ’n petisie waarin meer as 140 ondertekenaars hul misnoeë met die diensleweringsgebreke uitspreek, versuim premier Lazarus Kagiso Mokgosi steeds om die plaaslike munisipaliteit tot verantwoording te roep.

“Die probleme by die Tswaing Munisipaliteit kan nie bloot geïgnoreer word nie. Inwoners is afhanklik van die munisipaliteit om basiese dienste te lewer en behoort nie voortdurend self die gevolge van swak dienslewering te dra sonder dat daar duidelike optrede van die verantwoordelike owerhede volg nie,” sê hy.

Die organisasie meen dat die premier, as hoof van die provinsiale uitvoerende gesag, ’n belangrike rol te speel het om toesig oor plaaslike regering te hou en op te tree waar munisipaliteite nie hul verantwoordelikhede nakom nie.

“Meer as 140 e-posse is aan die premier se kantoor gestuur om inwoners se kommer oor die munisipaliteit se dienslewering onder die aandag van die provinsiale regering te bring. AfriForum het ook versoek dat die premier saam met die organisasie die gebied besoek om self kennis te neem van die probleme waarmee inwoners daagliks te kampe het. Tog swyg die premier steeds oor hierdie aangeleentheid. Dit laat ons wonder of basiese dienslewering en goed funksionerende munisipaliteite werklik ’n prioriteit vir die premier is,” sê Nel.

AfriForum doen opnuut ’n beroep op die premier om ’n besoek aan die Tswaing munisipale gebied af te lê en ’n duidelike uiteensetting te gee oor watter stappe die provinsiale regering gaan doen om die probleme met dienslewering aan te spreek.

AfriForum sal voortgaan om die aangeleentheid op te volg en die belange van die betrokke gemeenskappe te bevorder. Die organisasie verwag dat inwoners se bekommernisse ernstig opgeneem sal word en dat konkrete stappe gedoen sal word om volhoubare en doeltreffende munisipale dienslewering te verseker.

AfriForum het ’n aanlyn petisie waar inwoners hul stemme kan laat hoor. Klik hier om die petisie te onderteken.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf