|

Standerton-tak maak sowat 2 km se randstene skoon, ruim op ná storm en vele meer – alles in net één maand

Sowat 2 km se randstene is skoongemaak, nagenoeg 1,5 ton se boomstompe en takke is opgesny en opgeruim en nog vele meer suksesverhale het danksy AfriForum se Standerton-tak in September in dié dorp afgespeel.

Volgens Leon Enslin, voorsitter van AfriForum se Standerton-tak, het dié tak die afgelope maand behoorlik ingespring om opknapping- en opruimingswerk te takel.

Meer as 1,26 km se randstene is al langs die R23 – vanaf die spoorwegbrug oor die Vaalrivier – skoongemaak, terwyl ’n verdere nagenoeg 500 meter se randstene by die R39- en Beyers Naudéstraat-kruising skoongemaak is.

Die tak het voorts ook die Oudveterane-huis in Meyerville se gras gesny, drie bome verwyder wat tydens ’n erge haelstorm omgewaai het, en bome in Meyerville en Kosmospark gesnoei. Hiertydens is twee bakkievragte boomafval, met ’n geskatte gewig van 1 500 kg, weggery.

Enslin sê inwoners kan help om hul dorp ’n beter plek te maak deur self betrokke te raak. “Dit maak nie saak hoe oud of jonk jy is nie, elkeen kan ’n bydrae lewer om dié dorp ’n beter plek te maak,” verduidelik hy.

Raak vandag nog betrokke

AfriForum se Standerton-tak moedig inwoners aan om betrokke te raak by soortgelyke projekte wat daarop gemik is om Standerton op te knap, te beveilig en te verbeter. Kontak Enslin vir meer inligting (082 560 6381) of besoek www.wordlid.co.za.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf