| | |

Nóg rioolbesoedeling in Upington: AfriForum eis optrede ná skokuitslae van watertoetse

AfriForum eis dringende optrede van die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit oor riool wat reeds sowat vier jaar lank in Belview onder die N14-hoofweg deurvloei na die Oranjerivier toe. Die organisasie versoek onder meer van die munisipale bestuurder, dr. Elias Ntoba, dat die probleem opgelos word en dat die munisipaliteit eerlik met die gemeenskap moet kommunikeer oor die toestand van die water en die gesondheidsrisiko’s wat dit vir die gemeenskap inhou.

AfriForum het op 12 Oktober watermonsters deur ’n onafhanklike laboratorium laat ontleed en die toetsresultate wys op die teenwoordigheid van uiters hoë vlakke van fekale koliforme bakterieë en E. coli in die afvalwater wat by die N14-mangat in Belview getoets is. Volgens die resultate is meer as 2 419 600 fekale koliforme en 2 359 000 E. coli per 100 ml aangeteken. Om aan die minimum mikrobiologiese standaarde vir afvalwater te voldoen, moet minder as 1 000 CFU fekale koliforme per 100 ml teenwoordig wees. Die resultate oorskry hierdie perk aansienlik en dui op ernstige fekale besoedeling.

Dit blyk dat hierdie probleem verband hou met ’n verstopte rioolpyp in die riete op die roete vanaf Belview na die afvalwatersuiweringsaanleg. Dit hou ’n beduidende risiko vir die gemeenskap in aangesien sommige gemeenskapslede water uit die kanaal onttrek vir huishoudelike gebruik en daar ook boerderybedrywighede langs die kanaal loop wat van hierdie water afhanklik is. 

“Dit is onaanvaarbaar vir ’n rioolprobleem van dié aard om vir só lank voort te duur terwyl gemeenskapslede en organisasies soos AfriForum al herhaaldelik hierdie probleem uitgewys het. Die gemeenskap verdien ’n oplossing. Die munisipaliteit speel nou met inwoners se gesondheid en dit kan nie gebeur nie,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder in die Noord-Kaap.

Die organisasie versoek voorts dat onafhanklike watertoetse by die riooluitvloei, stroomop en stroomaf in die kanaal, en by relevante punte in die Oranjerivier gedoen word.

“Indien die munisipaliteit nie binne vyf dae reageer op ons eise nie sal AfriForum verdere stappe oorweeg. Ons het reeds einde September strafregtelike klagtes teen dr. Ntoba ingedien juis oor riool en sal nie skroom om nóg klagtes van die aard teen hom aanhangig te maak nie. Ons sal die munisipaliteit tot verantwoording roep,” sluit Strauss af.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf