AfriForum se MidWit-buurtspan verwyder meer as 250 sakke vullis
AfriForum se MidWit-buurtspan het gedurende September meer as 5,6 hektaar in Middelburg en eMalahleni (voorheen Witbank) skoongemaak en meer as 250 sakke vullis verwyder. Tydens dié skoonmaakaksies wat in parke, strate en ander openbare ruimtes in dié twee dorpe aangepak is, is op onder meer gebruikte spuitnaalde en sanitêre produkte afgekom. Dit wys volgens AfriForum op die dringende behoefte aan deurlopende opruimingsprojekte soos dié.
In Middelburg het die span nagenoeg 3,4 hektaar skoongemaak en meer as 140 sakke vullis verwyder. Die werk is by groenstroke in Heliodorstraat, Proteaweg (by die sogenaamde Tosca-park), Pongolarylaan, Bloekomsig, Eastdene en Verdoornstraat aangepak. Die span het ook opruimingswerk gedoen in Koetsstraat, naby die 4 SAI-basis by die Olifantsrivier, by Krugerdam in Aerorand en in Mineralia.
In eMalahleni het die span sowat 2,2 hektaar se gras gesny en terreine opgeruim, en meer as 110 sakke vullis verwyder. Dié skoonmaakaksies is toegespits op groenstroke in Oppenheimerrylaan, Lukin-, Anton van Wouw- en Inastraat, terwyl die omgewing rondom die SAVF Immergroen-tehuis ook opgeruim is.
Volgens Mark Salzwedel, voorsitter van AfriForum se Middelburg-tak, is inwoners veronderstel om parke en groenstroke sorgvry te gebruik sonder om tussen vullis en gebruikte spuitnaalde te loop. “Hierdie groenstroke word egter in vullishope omskep met alles van gestroopte koperkabels tot stukkende elektroniese toestelle. Eenmalige skoonmaakaksies is eenvoudig nie genoeg om die storting te keer nie. Daarom moet ons toesien dat gereelde opruiming gedoen word sodat inwoners dié terreine weer met vertroue kan gebruik,” verduidelik hy.
Sarel van Heerden, voorsitter van AfriForum se Witbank-tak, vol dat elke aksie wat die MidWit-span aanpak, uiteindelik tot die verbetering van die onderskeie dorpe bydra. “Elke terrein wat opgeruim word, bring ’n sigbare verbetering in iemand se onmiddellike omgewing. Ons moedig inwoners en ondernemings aan om hierdie werk te ondersteun,” sluit hy af.
Raak vandag nog betrokke
AfriForum se Witbank- en Middelburg-takke moedig inwoners en ondernemings aan om betrokke te raak by soortgelyke projekte wat daarop gemik is om hierdie dorpe op te knap, te beveilig en te verbeter. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.



