|

NERSA moet nou sokkies optrek en hou by hof se nuwe tydlyne vir munisipale kragtariewe – AfriForum

Deidré Steffens (Afrikaans)
Deidré Steffens (Engels)

AfriForum doen ’n beroep op die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) om te hou by die nuwe vasgestelde tydlyne vir munisipale kragtariefaansoeke soos vandag bekragtig in ’n hofbevel. Dié beroep volg ná NERSA se dringende aansoek om ’n vorige hofbevel – waarin nuwe, billike tydlyne vir dié proses vasgestel is – te laat hersien, gister aangehoor. Die aansoek is gister aangehoor en vandag gewysig deur ’n bevel met geringe aanpassings aan die tydlyne.

Die burgerregteorganisasie benadruk dat versuim om by dié nuwe tydlyne te hou ernstige druk op munisipaliteite se begrotingsprosesse, dienslewering en uiteindelik verbruikers kan plaas.

NERSA se dringende aansoek om die hofbevel rakende die tydlyne vir munisipale elektrisiteitstariefprosesse te wysig, is gister in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria aangehoor.

AfriForum het die hof in Augustus verlede jaar genader om NERSA se openbaredeelnameproses wat vir die instelling van die 2025/2026-boekjaar se munisipale kragtariewe gevolg is, ongeldig te laat verklaar weens ernstige prosedurele gebreke. AfriForum het ook die hof versoek om ’n interdik uit te reik om gespesifiseerde tydlyne vir toekomstige openbaredeelnameprosesse te verseker. Daarvolgens is versoek dat duidelike datums vir die goedkeuring van munisipale tariefverhogingsaansoeke vasgestel moet word. Die Hooggeregshof het op 31 Oktober in AfriForum se guns beslis en bepaal dat NERSA se goedkeuring vir die implementering van munisipale kragtariewe sonder die gebruik van behoorlike kostestudies en openbaredeelnameprosesse, ongrondwetlik is. Teen Desember is AfriForum se aansoek om ’n interdik om die implementering van spesifieke tydlyne vir alle toekomstige munisipale kragtariefaansoeke toegestaan. Dit is dié tydlyne wat NERSA nou vir die 2026/2027-boekjaar laat hersien het.

Hoewel AfriForum nie die aansoek formeel teenstaan nie, het die organisasie ernstige voorbehoude daaroor uitgespreek en meer werkbare sperdatums voorgestel.

Sien die onderstaande tabel vir ’n uiteensetting van die aanpassings aan die tydlyn.

Benewens die bevel rakende die aangepaste tydlyne, het die hof ook vandag bepaal dat enige munisipaliteit wat glo dat die gewysigde tydlyne steeds praktiese probleme inhou, ’n dringende aansoek mag bring om teen 17 Maart aangehoor te word vir verdere wysiging op die spesifieke munisipaliteit se tydlyne.

Volgens Deidré Steffens, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum, moet NERSA die tyd wat nou gegun is om die proses doeltreffend en in die belang van alle partye aan te pak, benut en nie toelaat dat onverantwoordelike bestuur van die proses die aansoekproses – soos in die verlede – kniehalter nie. “AfriForum sal die implementering van die gewysigde tydlyne noukeurig monitor om te verseker dat daar aan die hof se voorskrifte voldoen word. Ons sal ook toesien dat die aangepaste tydlyne steeds die beginsels handhaaf wat in die oorspronklike uitspraak bevestig is. Die aanvanklike hofbevel was daarop gemik om sekerheid, deursigtigheid en betekenisvolle openbare deelname aan die tariefgoedkeuringsproses te herstel. Hoewel die tydlyne nou vir die 2026/2027-boekjaar aangepas is, bly dit noodsaaklik dat die proses wettig verloop en dat munisipaliteite en elektrisiteitsverbruikers nie benadeel word nie,” sluit Steffens af.

Uiteensetting van tydlyne soos goedgekeur deur die hof in Desember 2025, sperdatums volgens NERSA se jongste aansoek, AfriForum se aangepaste tydlyne na aanleiding van die jongste NERSA-aansoek en die goedgekeurde sperdatums volgens die bevel gelewer op 20 Februarie 2026.

Sperdatum volgens Desember-hofbevelNERSA-aansoekAfriForum-voorstelNuwe sperdatum volgens Februarie-hofbevel
Kennisgewing oor nuwe grootmaat-aankooptarief31 Januarie13 Maart 
Kennisgewing aan munisipaliteite om aansoeke in te dien31 Januarie17 April 
Sperdatum vir munisipaliteite se aansoeke20 Maart17 April7 April31 Maart
Finalisering van openbare-deelnameproses   21 April
Publikasie van NERSA se finale besluite5 Mei29 Mei8 Mei11 Mei 

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik