AfriForum eis antwoorde oor SAPD se 10111-tekortkominge, terwyl miljoene noodoproepe onbeantwoord bly
AfriForum het ’n versoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gerig, waarin antwoorde versoek word oor aanhoudende tekortkominge in die 10111-noodoproepsentrumstelsel – insluitend oproepe wat onbeantwoord gelaat word, personeeltekorte, stelselonderbrekings en planne vir die oorgang na die nasionale 112-noodnommer.
Dié versoek volg op jare van aangemelde probleme met die diens, wat dikwels die eerste kontakpunt is vir mense wat ’n onmiddellike bedreiging vir hul lewens, huise of eiendom in die gesig staar. Die omvang van die probleem word weerspieël in syfers wat voorheen deur die SAPD bekend gemaak is. In ’n parlementêre antwoord in Mei 2024 van die destydse minister van Polisie, Bheki Cele, het dit aan die lig gekom dat ongeveer 14,9 miljoen oproepe by 11 van die land se 19 belsentrums vir 10111 laat vaar is sedert die 2018/19-boekjaar.
Hierdie oproepe het 26,2% uitgemaak van die 56,99 miljoen oproepe wat gedurende die tydperk deur daardie sentrums aangeteken is. Die syfers was onvolledig: agt sentrums kon nie die nodige data verskaf nie weens probleme met hul telefoonbestuurstelsels, terwyl inligting vir Limpopo en die Noord-Kaap nie beskikbaar was nie.
Die SAPD se jaarverslag vir 2023/24 het ook ’n nasionale gemiddelde koers van 26,44% vir oproepe wat laat vaar is, aangeteken. Sommige sentrums het gemiddelde reaksietye van tussen 8 en 35 minute gerapporteer. Die verslag het ondoeltreffende bestuur en ontoereikende kapasiteit by 10111-sentrums as ’n wesenlike onreëlmatigheid geïdentifiseer, en gewaarsku dat hierdie tekortkominge kan verhoed dat noodgevalle doeltreffend hanteer word, wat die publiek aansienlike skade kan berokken.
Personeelsyfers het verdere kommer laat ontstaan. Parlementêre inligting wat in 2024 gerapporteer is, het aangedui dat gemiddeld slegs 41,31% van die vereiste poste by 10111-sentrums gevul was. Destyds was slegs 8,2% van die vereiste poste in Queenstown in die Oos-Kaap, gevul, terwyl Welkom in die Vrystaat ’n koers van 64,6% gehad het vir oproepe wat verbreek is (sogenaamde abandoned calls), – gebaseer op oproepe waarvoor data beskikbaar was.
“Dit is nie bloot administratiewe tekortkominge of ongerieflike wagtye nie. Wanneer iemand aangeval word, ’n gesin met ’n huisbraak gekonfronteer word, of iemand ’n motorkaping aanmeld, kan die vermoë om die polisie te bereik ’n kwessie van lewe en dood wees,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.
“Miljoene oproepe wat laat vaar word behoort ernstige vrae te laat ontstaan oor of landsburgers op ’n betroubare wyse toegang tot noodhulp van die polisie kan kry wanneer hulle dit die nodigste het. Die feit dat sommige sentrums nie eens volledige oproepdata kon verskaf nie, laat verdere kommer ontstaan oor toesig, monitering en aanspreeklikheid.”
AfriForum se PAIA-versoek het betrekking op rekords oor oproepvolumes en oproepe wat verbreek is, wag- en reaksietye, personeelvlakke, tegniese onklaarrakings, vermoëns om die ligging van inbellers te bepaal, en ondersoeke na spesifieke voorvalle. Dit versoek ook inligting oor die toestand van die stelsels wat 10111 ondersteun, asook die planne, tydlyne en gereedheidsbeoordelings vir die oorgang na 112.
Onlangse verslaggewing het bykomende kommer laat ontstaan oor verouderende tegnologie. In September 2026 het berigte, gebaseer op inligting verskaf deur die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, aangedui dat ongeveer R19,3 miljoen oor vyf boekjare bestee is aan die GEMC3- en mobiele datastelsel wat die 10111-diens ondersteun, terwyl die hoofstelsels gedurende daardie tydperk nie gemoderniseer of vervang is nie. Daar is berig dat die Cisco-telefonie-infrastruktuur die einde van sy lewensduur en ondersteuningstydperk bereik het.
Regeringsbeleid het ’n oorgang na 112 as die nasionale noodnommer bepaal. AfriForum is van mening dat enige oorgang ondersteun moet word deur ’n duidelike implementeringsplan, betroubare tegnologie, voldoende opgeleide personeel en deursigtige prestasiemaatstawwe.
“Om die nommer wat mense skakel te verander, sal op sigself nie probleme met personeelvoorsiening, verouderde stelsels of die hantering van noodoproepe oplos nie. Landsburgers het die versekering nodig dat die stelsel agter die nommer werk. ’n Nuwe nommer mag nie bloot ’n nuwe swakpunt word waar dinge kan misluk nie,” sê Broodryk.
AfriForum sal die inligting wat deur die PAIA-proses verkry is, evalueer en gepaste verdere stappe oorweeg om aanspreeklikheid en verbeterings aan die noodoproepsentrumdiens te bevorder.
“Mense wat 10111 skakel, is dikwels bang en kwesbaar. Hulle behoort nie te wonder of hul oproep beantwoord sal word, of hul ligging bepaal sal word, en of hulp wel sal opdaag nie. Die SAPD moet duidelike antwoorde verskaf oor die tekortkominge en aantoon wat gedoen word om dit te voorkom,” sluit Broodryk af.



