| |

AfriForum dring aan dat minister Nyhontso ingryp ter wille van grondsekerheid in Mpumalanga

Klankgreep: Barend Uys (Afrikaans)
Klankgreep: Barend Uys (Engels)

AfriForum doen ’n dringende beroep op die minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Mzwanele Nyhontso, om in te gryp om grondsekerheid vir boere in die Thembisile Hani Plaaslike Munisipaliteit in Mpumalanga te verseker. ’n Grondsekerheidskrisis staar die boere in die gesig aangesien langtermyn-huurkontrakte en eienaarskap van grond nie aan hulle toegeken word nie, ten spyte daarvan dat sommige van dié boere en hul gesinne al vir dekades hul plase bewoon en bewerk. ’n Lys van 75 boere wat deur die gebrek aan sekerheid geraak word, is by die brief wat aan die minister gerig is, bygevoeg. Dié stap deur die burgerregte organisasie volg nadat die Limamlimi-boerevereniging se kommunikasie aan die minister onbeantwoord gebly het en die organisasies in September besluit het om kragte saam te snoer met die doel om grondsekerheid te bevorder.

Volgens Barend Uys, hoof van Interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum, beweer die provinsiale departement dat kontrakte nie met boere gesluit kan word nie, terwyl daar wel met enkele van hulle kontrakte gesluit is. Die totstandbringing van gemeenskaplike eiendomsverenigings (GEVs) en die ondeursigtige en twyfelagtige toekenning van grond aan dié GEVs, bedreig ook die lewensvatbaarheid van boerderye en het reeds tot geweld aanleiding gegee.

In die brief aan Nyhontso word daar verder daarop gewys dat huurkontrakte, landbou-insette en toegang tot finansiële ondersteuning, waaronder toelaes, ontwikkelingsfinansiering en lenings, na bewering in sommige gevalle deur amptenare van die provinsiale departement as beloning gebruik word, eerder as om dit ingevolge billike, deursigtige en regmatige prosesse toe te ken. Die indruk word dus geskep dat voorkeurbehandeling, magsmisbruik en korrupsie by die toekenning van huurkontrakte en landbou-ondersteuning aan die orde van die dag is.

Uys wys verder daarop dat boerdery langtermynbeplanning, kapitaalbelegging en aansienlike bedryfsuitgawes vereis en dus nie suksesvol kan wees sonder langtermyn-grondsekerheid nie. Die gebrekkige grondsekerheid het reeds tot die ondergang van boerderye gelei, wat gesinne in haglike omstandighede gelaat en ook lewensverlies tot gevolg gehad het. “Die gebrek aan eienaarskap en huurkontrakte verhinder boere boonop om hulle grond behoorlik te verdedig teen onwettige besetting en mynbou, plaaskapings en ander misdadige bedrywighede.”

“Die optrede van die regering stuur die boodskap dat die Departement van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling nie erns daarmee maak om langtermyn-grondsekerheid en grondeienaarskap vir opkomende, kleinskaalse en kommersiële boere, wat tans van staatsgrond afhanklik is, te verseker nie – ten spyte van uitsprake in hierdie verband deur politici. Watter ander verklaring is daar vir die feit dat amptenare steeds weier om langtermyn-huurkontrakte of eienaarskap aan boere toe te ken, al benut baie van die boere en hul gesinne al dekades lank hierdie plase?” sluit Uys af.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf