|

Mavimbela-familie, AfriForum verwelkom skuldigbevinding van voormalige sokkerster Mogaila

AfriForum se privaatvervolgingseenheid en die familie van die negejarige Gomolemo Mavimbela, wat in ’n botsing dood is wat deur die voormalige sokkerster Shaune Mogaila veroorsaak is, verwelkom sy skuldigbevinding op aanklagte van strafbare manslag en versuim om hulp te verleen ná ’n botsing. Hy het gister in die Tembisa Landdroshof skuldig gepleit op dié aanklagte, wat beteken dat sy lot nou in die hande van die hof is nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sy vorige pleitvoorstel in Julie verwerp het. Dit is verwerp nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid vertoë aan die staat gerig het namens Gomolemo se ma, Keo, en Carol Khethiwa, die ma van Thando, wat in dieselfde botsing ernstig beseer is. Die eenheid sal die families nou bystaan met die voorbereiding van slagofferimpakverklarings om die hof te help om ’n regverdige vonnis op te lê.

Toe Keo Mavimbela die nuus hoor, het sy gesê: “God is groot. Ek hoop die landdros lê ’n gepaste vonnis op.”

Gomolemo is op 30 Oktober 2024 op Andrew Mapheto-weg in Tembisa dood toe Mogaila se motor met Keo s’n gebots het. Thando, die seun van Keo se vriendin, is kritiek beseer. Die voormalige vleuel van Sekhukhune United het die ongelukstoneel verlaat en hom later dieselfde dag aan die polisie oorgegee.

Tshepo Kekana (English)

Tshepo Kekana, Keo Mavimbela se man, wat die hofverrigtinge met die ondersteuning van AfriForum se privaatvervolgingseenheid bygewoon het, is verlig oor dié verwikkeling. “Ten minste beweeg ons vorentoe. Ek voel ’n mate van verligting dat hy skuld beken het, hoewel dit nie heeltemal bevredigend is nie omdat daar steeds meer is oor wat gebeur het. Maar ons kom darem êrens. Ek is bly dat daar lig aan die einde van die tonnel is. Die ondersteuning wat ek van AfriForum ontvang, beteken baie vir my. Ek probeer om elke dag by die hof te wees en elke keer wanneer ek vertrek, voel ek dat ons vordering maak. Met AfriForum se hulp kom ons êrens en ek waardeer dit opreg. Baie dankie,” sê Kekana.

Barry Bateman (Afrikaans)

Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die skuldigbevinding is ’n stap nader aan afsluiting vir die Mavimbela-familie. “Ons is tevrede dat Mogaila skuld beken het en die familie die beproewing gespaar het om deur ’n verhoor te gaan. Hy het nog nie getuienis gelewer nie, dus kan hy moontlik nog ’n volledige weergawe gee van wat tot hierdie noodlottige botsing gelei het. Ons fokus is nou op die voorbereiding van slagofferimpakverklarings om die hof by te staan om ’n regverdige en gepaste vonnis op te lê. Ons hoop die vonnis stuur uiteindelik ’n sterk boodskap aan bestuurders wie se optrede lewens op ons paaie eis. AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal voortgaan om die familie deur hierdie proses te ondersteun,” sê Bateman.

Hoewel die voormalige sokkerspeler, wie se kontrak by Sekhukhune United in Julie verstryk het, ’n verklaring ingedien het, het hy geen besonderhede gegee oor wat tot die noodlottige botsing gelei het nie. “By of naby Phomolong het ek beheer oor die voertuig verloor wat ek bestuur het, waarna dit die pad verlaat het en in aankomende verkeer ingeswaai het. Dit het met ’n ander voertuig gebots wat in die teenoorgestelde rigting gereis het. As gevolg daarvan het die bogenoemde jongmeisie, wat ’n passasier in dié voertuig was, haar lewe verloor,” het hy in sy verklaring gesê.

Die saak is tot 17 November uitgestel sodat die staat en die verdediging die nodige verslae vir die vonnisverrigtinge kan voorberei.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik