Matriekuitslaesaak: Inligtingsreguleerder doen aansoek om verlof tot appèl
Die Inligtingsreguleerder (IR) se aansoek om verlof tot appèl in die saak wat handel oor die openbare bekendmaking van matriekuitslae, word môre (12 Maart) om 09:00 virtueel aangehoor. ’n Volbank regters het einde verlede jaar in die guns van AfriForum en ander partye beslis dat die uitslae wel gepubliseer mag word.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het die geskil oor die openbare bekendmaking van matriekuitslae in 2022 begin toe die Departement van Basiese Onderwys (DBO) dit probeer verbied het. In regsaksie wat gevolg het, het die hof AfriForum en die ander betrokke partye destyds gelyk gegee dat die bekendmaking van die uitslae in openbare belang is en daarom moet voortgaan.
Aan die einde van 2024 het die IR probeer verhoed dat die DBO die 2024-matriekuitslae bekendmaak. Die IR se aansoek om ’n interdik teen die bekendmaking te verkry, het egter misluk, waarna die saak oor die meriete gevolg het. In Desember 2025 het die volbank regters in hulle uitspraak bevestig dat matriekuitslae wel op openbare platforms gepubliseer mag word. Verder is bevind dat die gebruik van eksamennommers as enigste identifikasiemiddel voldoende beskerming vir matrikulante se privaatheid bied en dat die DBO regmatig opgetree het deur nie die IR se opdrag om die uitslae terug te hou, na te kom nie. Die IR betwyfel onder meer die hof se mag om die verontagsaming van statutêre opdragte soos dié van die reguleerder aan die DBO te kondoneer. Die IR doen dus op grond daarvan en van ander tegniese punte nou aansoek om verlof tot appèl.
Volgens Bailey sal die uitkoms van die saak meer kwessies as net die bekendmaking van matriekuitslae beïnvloed. “Verskeie navorsingsterreine werk met inligting van individue wat slegs deur middel van nommers of kodes geïdentifiseer kan word. Dit word juis gebruik om hulle reg tot privaatheid en anonimiteit te beskerm. Sou die IR die saak wen, gee dit omvangryke mag aan dié instelling om die gebruik van sodanige data te verbied, wat lewensnoodsaaklike navorsing tot stilstand kan ruk.”
AfriForum vertrou dat die saak nou finaal te ruste gelê kan word en dat die uitkoms daarvan ’n duidelike balans tussen die beskerming van die reg tot privaatheid en die bevordering van openbare belange tot gevolg sal hê.



