| | |

Matriekuitslae-saak van AfriForum en ander: Verlof tot appèl toegestaan

Klankgreep: Alana Bailey (Afrikaans)

In die matriekuitslaesaak waar ’n volbank regters in die Pretoriase Hooggeregshof ten gunste van AfriForum en ander partye beslis het dat dié uitslae wel gepubliseer mag word, veg die Inligtingsreguleerder (IR) steeds verbete teen dié bekendmaking. Die hooggeregshof het op 3 Junie 2026 die IR se aansoek om verlof tot appèl geweier, waarna hierdie instelling die Hoogste Hof van Appèl (HHA) direk om verlof tot appèl genader het. Die aansoek is toegestaan.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, was verligting dat die dispuut oor die publikasie van matriekuitslae nou uiteindelik opgelos is, van korte duur. “Dit is duidelik dat die IR nie die futiliteit van hierdie saak insien nie en ook nie die risiko’s wat ’n uitspraak ten gunste daarvan sal inhou nie. Terwyl die IR magspeletjies speel, is dit die toekoms van inligting wat in openbare belang bekendgemaak moet word, wat in die gedrang kom,” sê sy.

AfriForum se regspan is ook bekommerd daaroor dat die IR reeds in ’n berig in die Sunday Times van 17 Augustus 2026 genoem het dat die saak deur die HHA aangehoor sal word, terwyl verlof eers vandeesweek toegestaan is. Die IR sal om ’n verduideliking in dié verband gevra word.

Die saak het oorspronklik in 2022 begin toe die Departement van Basiese Onderwys (DBO) probeer het om die publikasie van die matriekuitslae te verbied. In regstappe wat gevolg het, het die hof ten gunste van AfriForum en die ander betrokke partye beslis dat openbare bekendmaking moes voortgaan.

Aan die einde van 2024 het die IR probeer om te verhoed dat die DBO die 2024-matriekuitslae publiseer. Die IR se aansoek om ’n interdik hierteen te bekom, het egter misluk, waarna die saak oor die meriete gevolg het. In Desember 2025 het ’n volbank regters beslis dat matriekuitslae met kandidate se eksamennommers in plaas van name wel op openbare platforms gepubliseer mag word, waarna die IR se aansoeke om verlof tot appèl gevolg het.

Verskeie navorsingsvelde werk met inligting van individue wat slegs deur nommers of kodes geïdentifiseer kan word. Dit word juis gebruik om hul anonimiteit en privaatheid te beskerm, net soos wat die geval met die matriekuitslae is. Hierdie is dus ’n saak met wye implikasies omdat dit oor die balans tussen die reg tot privaatheid teenoor openbare belang handel. AfriForum hoop dat daar binnekort finale duidelikheid hieroor sal wees.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners