Lisensiekaarte wat agt jaar geld steeds in die pyplyn, beloof minister aan AfriForum
Daar word deurlopend in die agtergrond gewerk aan die verlenging van die geldigheidstydperk van bestuurderslisensies na agt jaar. Só skryf die minister van Vervoer, Barbara Creecy, in ’n brief aan AfriForum gedateer 14 Maart 2026. Die burgerregteorganisasie doen nou ’n beroep op die minister om die werk spoedig af te handel en herinner haar daaraan dat die hele land se oë op haar departement gevestig is.
Creecy se brief kom in antwoord op ’n brief wat AfriForum ’n maand vroeër aan haar gestuur het om uit te wys dat die departement van Vervoer se prestasieplan aandui dat die gewysigde regulasie oor die geldigheidstydperk van bestuurderslisensiekaarte vroeg in 2026 gepubliseer moet word. Die minister skryf in haar antwoord dat daar binnekort geleentheid vir openbare kommentaar gebied sal word op ’n voorlopige weergawe van die gewysigde regulasie.
Volgens Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder, moet die departement nie verskonings maak om die verandering van dié regulasie te laat sloer nie. “Daar is oorweldigende openbare steun vir hierdie besluit en baie rede om dit gou tot uitvoering te bring,” sê Boshoff.
“Elke dag wat die departement langer neem om die proses af te handel, is daar meer mense wie se lisensiekaarte verval, maar nog heeltemal bevoeg is om hul voertuie veilig en verantwoordelik te bestuur. AfriForum sal aanhou druk plaas om hierdie proses te laat afhandel.”



