AfriForum maak gereed vir volgende stappe in Melgisedek-saak
Klankgreep: Arno Roodt (Afrikaans)
Klankgreep: Arno Roodt (Engels)
AfriForum se stryd teen die verskuiwing van honderde inwoners van die Melgisedek-gebou, naby die Steve Biko Akademiese-hospitaal, na ’n terrein in Gezina gaan voort. Dit volg nadat die Hooggeregshof in Pretoria die burgerregteorganisasie se aansoek om ’n dringende interdik om die verskuiwing te keer vandag van die hand gewys het. AfriForum oorweeg nou die moontlikheid om te appelleer of as party toe te tree tot die uitsettingsaak tussen die Melgisedek-inwoners en die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit.
Die hof het op 3 Maart ’n uitsettingsbevel bekragtig wat die Tshwane-metro toestemming gee om die Melgisedek-inwoners te verskuif. AfriForum het gevolglik ’n dringende hofaansoek gebring nadat dit aan die lig gekom het dat die metro van voorneme is om nagenoeg 500 mense na ’n oop stuk grond op die hoek van Nico Smith-straat en Johan Heyns-rylaan te hervestig – sonder behoorlike infrastruktuur, beplanning of konsultasie met die gemeenskap.
In hul hofstukke het AfriForum aangevoer dat die terrein nie geskik is vir ’n grootskaalse tydelike nedersetting nie, dat die sonering dit nie toelaat nie en dat die beplande ontwikkeling ernstige risiko’s vir veiligheid, gesondheid en openbare orde inhou. Die organisasie het ook uitgelig dat die metro versuim het om deursigtig op te tree of betekenisvolle betrokkenheid met inwoners en belanghebbendes te hê.
Hoewel die hof nie die gevraagde dringende interdik toegestaan het nie, bly die kernkwessies wat AfriForum geopper het, onopgelos.
“Ons respekteer die hof se beslissing, maar verskil fundamenteel van die uitkoms. Die realiteit bly dat die metro besig is om ’n ondeurdagte en skadelike besluit af te dwing op ’n gevestigde gemeenskap. Die besluit gaan verreikende gevolge vir die Moot se inwoners inhou,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Pretoria.
Hemmens beklemtoon dat hierdie saak nie net oor die Pretoriase Moot gaan nie, maar oor die breër beginsel van verantwoordbare regering: “Die metro kan nie voortgaan om krisisse te bestuur deur dit bloot van een area na ’n ander te skuif nie. Dit is nie volhoubaar nie en ook nie regverdig teenoor die Moot-gemeenskap of Melgisedek-inwoners nie.”
Die Melgisedek-inwoners se regspan gaan nou ’n petisie by die Appèlhof indien om die verskuiwing te probeer keer. AfriForum sal dan oorweeg om as party tot dié saak toe te tree of om teen vandag se hofbeslissing te appelleer.
“Ons regspan sal die uitspraak nou deeglik bestudeer en bepaal watter verdere regs- en burgerlike stappe geneem kan word, maar hierdie saak is lank nie verby nie,” sê Arno Roodt, AfriForum se hoof Gemeenskapstrukture in die noordstreek.
AfriForum sal intussen voortgaan om druk op die metro toe te pas en die situasie op voetsoolvlak noukeurig te moniteer. Die organisasie sal ook saam met die gemeenskap werk om veiligheid, orde en volhoubare oplossings te bevorder.
“Die Tshwane-metro en die huidige bedeling het bewys dat hulle nie die belange van die Moot-gemeenskap op hul hart dra nie. Ons kan ook nie al ons vertroue in die regbank plaas om tot ons redding te kom nie. Ons as gemeenskap moet selfdoen. AfriForum sal nie terugstaan nie – ons sal aanhou veg en bou vir die Moot en sy mense,” sluit Roodt af.
Die burgerregteorganisasie moedig inwoners van Pretoria ook aan om by sy takstrukture betrokke te raak en sodoende hul gemeenskap sterker te maak teen die misdrywe van die staat.
Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog ’n lid te word.



