Laerskool Koornfontein pronk met nuutgeverfde badkamers danksy buurtspan
AfriForum se MidWit-buurtspan het as deel van die burgerregteorganisasie se opknappingsprojekte by skole, twee van Laerskool Koornfontein se dogtersbadkamers oorgedoen. Dié skool, met sy sowat 350 leerders, ontstaan sedert 1962 in Komati.
Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, sê die MidWit-buurtspan het hand opgesteek om herstelwerk aan dié skool se infrastruktuur te doen. Die krake op die twee badkamers se mure is opgevul, waarna die mure oorgeverf is. Die buurtspan het boonop die plafonne gewas en geverf sowel as die deur en vensterrame. AfriForum het ook die gordyne in beide badkamers vervang.
“AfriForum is altyd gretig om leerders se welstand te bevorder en een van die maniere wat dié buurtspan dit gedoen het, is om hierdie skool se kleedkamers op te knap,” sê Bekker.


In ’n poging om ’n skoon en netjiese leefomgewing te skep, het die MidWit-buurtspan in Emalahleni (Witbank) meer as twee hektaar se gras gesny en skoongemaak. Verskeie areas is skoongemaak, insluitend die park in Judystraat. Verder is daar ook aandag gegee aan die voetbrug in Longtomstraat, waar gras hoër as 1,5 m aan weerskante van die voetpad gestaan het. Altesaam 32 sakke vullis is ook verwyder.
“Die Emalahleni Plaaslike Munisipaliteit se openbare ruimtes word geensins onderhou nie. Die MidWit-buurtspan staan nie terug vir ’n uitdaging nie, daarom werk die span hard om voortdurend die lang gras te sny en op te ruim,” sê Sarel van Heerden, voorsitter van AfriForum se Witbank-tak.
In Middelburg het die buurtspan meer as vyf hektaar se gras gesny en opgeruim, insluitend ’n verskeidenheid van parke in onder meer Pongolarylaan. Altesaam 37 sakke vullis is ook opgetel en verwyder.
“Ons het ’n groot probleem met rommelstrooiers en dwelmverslaafdes wat die park in Middelburg misbruik. Ons probeer om hierdie parke terug te neem vir die gemeenskap en dit in openbare ruimtes te omskep wat deur almal geniet kan word,” sê Mark Salzwedel, voorsitter van AfriForum se Middelburg-tak.



