Kuruman nou tweede dorp sonder behoorlike watervoorsiening in Noord-Kaap
AfriForum soek optrede van SAMRK, NK-premier en ander
AfriForum het ’n beroep op dr Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, die John Taolo Gaetsewe Distriksmunisipaliteit, die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) en ander gedoen om op te tree om die watervoorsieningsprobleem in Kuruman te stuit. Dit volg ná inwoners van Die Oog en omliggende areas die afgelope twee weke herhaaldelik sonder water gelaat is met geen inligting oor die redes hiervoor nie. Kuruman is die tweede dorp in die Noord-Kaap wat hierdie week probleme met watervoorsiening ervaar.
AfriForum het aanvanklik aan die Ga-Segonyana Plaaslike Munisipaliteit geskryf en hulle versoek om binne 24 uur te reageer met antwoorde oor die oorsake van die uitdagings rakende watervoorsiening asook die stappe wat gedoen word om die uitdagings uit te klaar. Die organisasie het ook die Noord-Kaapse Departement van Samewerkende Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake (Cogta) en die Noord-Kaapse Departement van Water en Sanitasie genader om in te tree en die munisipaliteit tot verantwoording te roep.
Inwoners van Die Oog het AfriForum meegedeel dat hulle by tye vir vyf dae aaneen sonder water moes gaan. Watervoorsiening is ’n basiese reg en indien watervoorsiening wisselvallig is kan die direkte impak op huishoudings, ondernemings, skole en gesondheidsfasiliteite enorm wees.
Daar word vermoed dat die wateronderbrekings onder meer veroorsaak of vererger word deur kragonderbrekings wat waterpompe beïnvloed, ’n versuim om pompe aan te skakel nadat kragtoevoer herstel is, en bestuursuitdagings by die munisipaliteit.
AfriForum versoek onder meer dat die owerhede ondersoek instel na die watervoorsiening in Kuruman, veral in Die Oog-area. Voorts versoek die organisasie ook dat daar verseker word dat onmiddellike remediërende stappe geïmplementeer word om watertoevoer te herstel en te stabiliseer.
“Dit is uiters kommerwekkend dat Kuruman nou die tweede Noord-Kaapse dorp binne ’n week is wat met ’n waterkrisis worstel. Dit dui op ’n groter sistemiese probleem in die bestuur en instandhouding van waterinfrastruktuur in die provinsie,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.
AfriForum beklemtoon dat toegang tot water ’n grondwetlike reg is en dat herhalende diensleweringsmislukkings nie langer as toevallige of geïsoleerde voorvalle afgemaak kan word nie.
“Ons het die Ga-Segonyana-munisipaliteit 24 uur gegee om op ons versoek te reageer, dit blyk of hulle nie die uitdagings wat die inwoners van Kuruman in die gesig staar ernstig opneem nie. Ons het nou geen ander keuse as om die premier en ander provinsiale owerhede asook die SAMRK te nader om stappe te doen om betroubare watervoorsiening vir die inwoners van Kuruman te verseker nie. Sou watervoorsiening nie verbeter nie sal AfriForum verdere stappe doen,” sluit Smit af.



