Boekerubriek – wen met jóú aanbevelings
Alana Bailey
Plaaslike en internasionale peilings bevind voortdurend dat Suid-Afrikaanse kinders se vermoë om met begrip te lees, oor die algemeen swak is. Daar is natuurlik uitsonderings, met ouers en onderwysers wat baie moeite doen om ’n liefde vir lees by kinders aan te wakker.
Gedrukte tekste hou baie voordele in. Dit is dus noodsaaklik dat kinders nie net aanlyn moet kan lees nie, maar boeke moet hê wat hulle kan vashou en waardeur hulle kan blaai. Van dié voordele sluit in dat die omblaai-aksie hulle tassin van jongs af stimuleer. Boonop gee die tyd wat dit neem om te blaai vir jong lesers die kans om inligting wat pas gelees is, te prosesseer en onthou. (Dit gebeur nie noodwendig wanneer ’n mens ’n lang vertikale teks op ’n skerm lees nie.)

Vir kinderontwikkeling is daar ’n legio voordele wat aan enige vorm van lees gekoppel kan word. Wat kognitiewe vermoë aanbetref, ontwikkel dit hulle taalgebruik, kritiese denke en begrip. Dit brei hulle kennis uit, veral op terreine wat nie noodwendig deur die skoolkurrikulum gedek word nie. Dit kan ook baie meer kultureel spesifiek gefokus wees. In Suid-Afrika met ons multikulturele bevolking moet die nasionale kurrikulum uiteraard breed fokus, maar met leesstof kan kinders baie meer oor hul eie gemeenskap se geskiedenis, gewoontes, tradisies en taal leer.
Lees help ook dat kinders emosioneel groei en sosiaal meer aanpasbaar word.
Lees help ook dat kinders emosioneel groei en sosiaal meer aanpasbaar word. Deur stories leer hulle wat aanvaarbare gedrag is, hoe om hulle emosies uit te druk, en selfs hoe om veerkragtigheid te ontwikkel wanneer hulle terugslae beleef. Deur assosiasie met karakters in stories ontwikkel hulle empatie vir hulle medemens, insluitend mense met wie hulle dalk in die alledaagse lewe geen kontak het nie, soos mense met bepaalde gestremdhede. Dit help hulle om situasies beter te hanteer wanneer hulle dan die eerste keer so ’n persoon ontmoet. Deur saam te lees of oor stories en boeke te gesels, word die band tussen grootouers, ouers en kinders ook verstewig.
Hierdie ontwikkeling en vaardighede dra by tot akademiese, en uiteindelik loopbaansukses. Lesers is geneig om weens hulle sterk taalontwikkeling veeltalig te word en gesonde nuuskierigheid te ontwikkel. Hulle verbeelding word daardeur gestimuleer en hulle kreatiwiteit uitgebou. Vir hulle is die wêreld letterlik ’n oester waarbinne hulle met probleemoplossingskundigheid en wysheid kan skitter!
Lees is baie soos groente: noodsaaklik vir groei, maar almal word nie met ’n liefde daarvoor gebore nie. Soms is ’n kind van jongs af gek oor boeke. Ouers kan net hul sterre dank as dit die geval is. Ander kere is moeite nodig om dié liefde by hulle te vestig.
So ’n liefde begin wanneer ouers vir kinders voorlees. Namate kinders ouer word, kan hulle aangemoedig word om self te begin lees. Hardop voorlees help om kinders se woordeskat en uitspraak te vestig en is goed vir ’n gesonde selfbeeld. In die proses kan die woorde wat die kind nie verstaan nie, saam opgesoek word (hier kan ’n verklarende woordeboek baie behulpsaam wees). In stories kan rolspel en bietjie drama help, in feiteboeke dalk byklanke: Gestel die kind lees graag oor voëls, kan die ouer die klanke wat die voëls maak op ’n toepassing soek en voorspeel, of as hulle dapper genoeg is, dit self probeer namaak!
Onthou dat kinders na-apers is. As ouers self nooit lees nie en daar nie boeke in die huis is nie, gaan die kind nie geroepe voel om anders op te tree nie. Boeke is baie duur, maar vind uit of daar ’n biblioteek in die omgewing is, of begin ’n boekklub vir kinders saam met ander ouers sodat boeke onderling uitgeruil kan word. Moedig ook familie of vriende aan om bv. met verjaarsdae eerder vir kinders geskenkbewyse van boekwinkels of boeke te gee, as speelgoed wat mettertyd in die kas bly lê.
Dit is belangrik om kinders self te laat kies wat hulle wil lees. Dit geld vir die onderwerp én die vlak van die leesstof. Dalk moet hulle self ontdek dat ’n boek té gevorderd is vir hulle ouderdom, of dalk moet die ouer ontdek dat die kind meer gevorderd is as wat aangeneem is. Al kies hulle ’n boek weens die mooi omslag, is dit die begin van ’n liefde vir boeke wat later kan ontwikkel na ’n groter fokus op die inhoud.
Lig in duisternis-uitgewery het in 2025 ’n kompetisie aangebied waar kinders na aanleiding van die storieboek Die katte van Kathu deur Adriaan Swanepoel, self ’n opvolgstorie met dieselfde kattekarakters moes skryf. Dit is iets wat ouers maklik kan naboots. Vra byvoorbeeld vir jou kind wat hy of sy dink toe verder met Gouelokkies gebeur het – het sy weer by die bere gaan kuier? En het Rooikappie nog avonture in die bos beleef?

Soos bo genoem is van die uitdagings dat boeke baie duur geword het, maar ook dat boeke soms inhoud bevat wat glad nie met ouers se morele waardes strook nie. Dit kan ook gebeur dat sekere boeke vir volwassenes interessant is, maar die kinders só sal verveel dat dit hulle lewenslank van lees sal afsit.
Om hierdie rede wil ons graag van ouers hoor watter Afrikaanse boek of boeke hulle vir ander kinders aanbeveel omdat hulle eie kinders dit besonder baie geniet. Dit kan feite of fiksie wees, iets wat pas verskyn het of al ’n paar jaar gelede verskyn het. Meld ook die ouderdomsgroep waarvoor dit geskik is.
Ons sal elke maand ’n aanbeveling kies wat ons in die nuusbrief plaas en die persoon wat dit ingestuur het, met ’n geskenkbewys van R500 beloon. Aanbevelings kan gestuur word aan onderwys@afriforum.co.za. Ons sien uit daarna om van julle te hoor!



