|

Verkiesing kruip nader, terwyl land se vier grootste politieke partye steier

Deur Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder

Met die Suid-Afrikaanse munisipale verkiesing wat rondom November vanjaar moet plaasvind (alhoewel die presiese datum nog nie bekend gemaak is nie), het al vier die grootste politieke partye rede tot kommer.

Die afgelope dertig jaar het getoon dat die ANC oor die algemeen swakker vaar in munisipale verkiesings as wat die geval is met nasionale verkiesings. Intussen word die ANC se leier, Cyril Ramaphosa, tans nêrens as ’n indrukwekkende partyleier gereken nie. As partyleier is hy veral besig om interne onenigheid te bestuur, en as staatspresident word sy termyn gekenmerk deur die alewige aanwys van kommissies en die gedurige uitspreek van skok in reaksie op elke nasionale verleentheid.

Die ANC se internasionale aansien het ook bykans volledig opgedroog. Binnelandse lojaliteit aan die sogenaamde “bevrydingsparty” word ál minder en narratiewe soos “die nalatenskap van apartheid” of “onpatriotiese regse groepe” gaan ál moeiliker verkoop hoe langer die gewone landsburgers ekonomies swaarkry en niks tasbaars ontvang in antwoord op die ANC se beloftes nie.

So onbetroubaar as wat vroeë peilings is, dui die jongste resultate reeds daarop dat die ANC vanjaar verder steun gaan verloor en dat die swak opkoms van hul tradisionele steunbasis by die stembus die grootste rede hiervoor gaan wees.

Die DA word op hul beurt deur ’n leierskapskrisis in die gesig gestaar, veral nadat John Steenhuisen, die party se huidige leier, op 4 Februarie aangekondig dat hy nie homself in April weer verkiesbaar sal stel vir dié posisie nie.

Hoewel Steenhuisen dié besluit voorhou as ’n onbaatsugtige een en aanvoer dat hy eerder as landbouminister sy aandag voortaan wil toespits op die bestryding van die bek-en-klouseer-krisis, steek daar dalk meer in dié besluit. Daar word wyd aanvaar dat die verskeie skandale wat in die afgelope maande rondom sy kop losgebars het, dalk ’n groter rol gespeel het. Dié skandale sluit onder meer in Steenhuisen se aanstelling én afdanking van Roman Cabanac as stafhoof van die Departement van Landbou; sy gebruik van ’n party-kredietkaart om Uber Eats-etes te bestel; Dion George, minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, se onlangse bedanking; en die ernstige kritiek rakende Steenhuisen se bestuur van die bek-en-klouseer-inentingsfiasko.

Met die ander groot rolspelers in die politiek gaan dit ook nie te waffers nie. Die MK-party was dalk die afgelope paar maande relatief skandaalvry, maar intern beleef MK uiterse wanorde. Talle ontleders reken dat die party se gewildheid totaal afhanklik is van Jacob Zuma, die bejaarde partyleier, en dat die party ná Zuma se uittrede (of selfs afsterwe) in duie sal stort. Terwyl Zuma se wispelturige aanstelling en afdanking van hooggeplaastes in die party tot onstabiliteit lei, is dit ook onwaarskynlik dat dié party enige wesenlike sukses buite KwaZulu-Natal sal behaal in die komende munisipale verkiesing.

Laastens beleef die EFF ook sy eie rits uitdagings. Dié party het in die afgelope twee jaar deurlopend stemme, lede en selfs leiersfigure aan die MK-party afgestaan. Intussen is die EFF se “hoofkommandeur”, Julius Malema, onlangs skuldig bevind aan onder meer die onwettige besit en afvuur van ’n vuurwapen in ’n beboude gebied sonder genoegsame rede. Hy moet nou tot April wag om uit te vind wat sy vonnis sal behels en dit is nog onduidelik hoe goed die partystrukture sal standhou indien hy moet tronk toe gaan.

Opsommend sit ons in aanloop tot die munisipale verkiesing in die paradoksale situasie waarin nasionale politiek bepalend lyk, maar streeks- en kultuurpartye waarskynlik die groot wenners gaan wees. Tog is 10 maande ’n lang tyd in die politiek en sal enigeen dwaas wees om nou met sekerheid ’n voorspelling te waag.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik