| | |

Gemeenskappe moet dalk boet vir Nala-munisipaliteit se R1,2 miljard-skuld

AfriForum meen dat inwoners van die Nala Plaaslike Munisipaliteit nie gestraf mag word as gevolg van dié munisipaliteit se Eskom-skuld nie. Dié skuld beloop tans meer as R1,2 miljard en is die oorsaak van Eskom se openbare kennisgewing dat kragtoevoer na die Nala-munisipaliteit onderbreek of verminder kan word weens hierdie uitstaande skuld.  Die organisasie het ’n skrywe aan die munisipaliteit gerig om antwoorde te eis oor hoe hy van plan is om hierdie skuld te delg.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, hou die Nala-munisipaliteit se finansiële wanbestuur nou ’n direkte gevaar in vir inwoners en ondernemings wat hul kragrekeninge getrou betaal. Pretorius meen dat dit ook ’n verdere bewys is van die Nala-munisipaliteit se deurlopende versuim om sy grondwetlike en statutêre verpligtinge na te kom.

Artikel 152 van die Grondwet bepaal dat munisipaliteite basiese dienste op ’n volhoubare wyse aan gemeenskappe moet lewer en ’n veilige en gesonde omgewing moet bevorder. Elektrisiteitsvoorsiening is ’n belangrike munisipale diens wat menswaardigheid, ekonomiese deelname,  gesondheidsorg en openbare veiligheid bevorder. Die Nala-munisipaliteit se wanbestuur en versuim om hul skuld te delg bedreig hierdie verantwoordelikheid.

Daarbenewens stel die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur 56 van 2003 dit duidelik dat munisipale leierskap verplig is om gesonde finansiële bestuur te verseker, deursigtigheid te bevorder en streng beplanning toe te pas om dienslewering te verbeter.

AfriForum dring in sy brief aan die munisipaliteit aan op:

  • ’n volledige verduideliking van hoe die skuld aan Eskom opgehoop het;
  • ’n geloofwaardige en uitvoerbare terugbetalingsplan;
  • die versekering dat inwoners wat getrou hul munisipale rekeninge betaal, beskerm gaan word; en
  • ’n aanduiding van watter stappe gedoen word om verdere skuld te voorkom.

“Ons gemeenskappe mag nie gyselaar gehou word as gevolg van die munisipalitet se swak bestuur nie. By AfriForum sal ons alles in ons vermoë doen om te verseker dat inwoners se regte beskerm word en dat die munisipaliteit aanspreeklik gehou word,” sluit Pretorius af.

AfriForum gee die Nala-munisipaliteit tot 16 Maart 2026 geleentheid om op hul skrywe te reageer.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf