Ngwathe se Eskom-skuld haal byna-byna die R3 miljard-kerf, donker dae wag dalk
Klankgreep: Alta Pretorius (Afrikaans)
Klankgreep: Alta Pretorius (Engels)
AfriForum eis antwoorde van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit oor hoe dié munisipaliteit beplan om sy skuld, ten bedrae van R2,9 miljard, aan Eskom te betaal en sodoende te verhoed dat inwoners en ondernemings in die duisternis gedompel word. Dié eis is vervat in ’n brief wat AfriForum vandag aan die munisipaliteit gerig het en volg in reaksie op ’n openbare kennisgewing wat Eskom Vrydag gepubliseer het. Luidens die kennisgewing dreig Eskom om Ngwathe en meer as ’n dosyn ander munisipaliteite se elektrisiteitstoevoer in Mei te snoei of op te skort weens agterstallige skuld aan die kragvoorsiener.
Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, hou die Ngwathe-munisipaliteit se finansiële wanbestuur nou ’n direkte gevaar in vir inwoners en ondernemings wat hul kragrekeninge getrou betaal. Dit is voorts ’n verdere bewys van dié munisipaliteit se deurlopende versuim om sy grondwetlike en statutêre verpligtinge na te kom, meen sy.
Die jongste verwikkeling kom te midde van AfriForum se uitgerekte regsgeding met die munisipaliteit oor swak dienslewering. Die Hooggeregshof het reeds in Junie 2025 in AfriForum se guns beslis en bepaal dat die munisipale raad moet ontbind en dat die provinsiale regering by die munisipaliteit moet ingryp. Die Hooggeregshof het intussen verlede maand beslis dat dié hofbevel nou – ondanks die munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl by die Konstitusionele Hof – onmiddellik geïmplementeer moet word. Die regter het boonop benadruk dat daar ingevolge die Grondwet ’n verpligting is om by dié munisipaliteit in te gryp.
“Ngwathe se reuseskuld aan Eskom, is tekenend van sistemiese finansiële wanbestuur in dié munisipaliteit,” verduidelik Pretorius. “Daar moet nou dringend opgetree word om die implementering van Eskom se strafmaatreëls af te weer en die impak van kragonderbrekings op gesondheidsorg, sanitasiedienste, ondernemings, die ekonomie en gemeenskapsveiligheid te mitigeer. Die Grondwet verplig munisipaliteite om toe te sien dat basiese dienste gelewer word en die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur vereis dat behoorlike finansiële bestuur geskied – Ngwathe het daarom ’n onmiskenbare plig om in die belang van inwoners op te tree en sake reg te ruk.”
AfriForum dring in sy brief aan die munisipaliteit aan op:
- ’n volledige verduideliking van hoe die skuld aan Eskom opgehoop het;
- ’n geloofwaardige en uitvoerbare terugbetalingsplan;
- die versekering dat inwoners wat getrou hul munisipale rekeninge betaal, beskerm gaan word; en
- ’n aanduiding van watter stappe gedoen word om verdere skuld te voorkom.
Pretorius kap intussen ook na die munisipaliteit se wanbesteding van belastingbetalers se geld. Hoewel die hof reeds telkens bepaal het dat dienslewering in Ngwathe onvoldoende is en ingryping vereis, hou die munisipaliteit steeds aan om teen hofuitsprake te appelleer. “Ngwathe kies magsbeheer bo die herstel van dienslewering en finansiële dissipline. Intussen gaan hulle voort om geld te mors op litigasie en appèlle eerder as om hul finansiële verpligtinge teenoor Eskom na te kom. Hierdie benadering dreig nou om inwoners dubbel en dwars te straf, want ondanks inwoners se getroue betaling kan hulle dalk eersdaags sonder krag gelaat word weens die munisipaliteit se swak finansiële bestuur,” verduidelik Pretorius.
Onlangse geleenthede wat deur die munisipaliteit aangebied is, soos ’n groot verjaarsdagpartytjie vir burgemeester Victoria de Beer en die afgelope naweek se fiksheidsbyeenkoms, laat ook boonop vrae ontstaan oor die munisipaliteit se finansiële bestuur.
“Waar kom die geld vir geleenthede soos dié vandaan en hoe kan dit aangebied word, terwyl die betaling van kritieke basiese dienste agterweë gelaat word? In ’n tyd wat die munisipaliteit op die rand van ’n kragkrisis staan, behoort elke sent aangewend te word om basiese dienste te beskerm,” sluit Pretorius af.
AfriForum het dit in sy brief aan die munisipaliteit duidelik gestel dat indien dringende en doeltreffende maatreëls nie ingestel word om die krisis af te weer nie, verdere regstappe oorweeg sal word om die gemeenskap se reg op basiese dienste te beskerm.



