Gebrekkige verkeersinfrastruktuur hou risiko vir Bothaville-inwoners in; Nala-munisipaliteit móét optree – AfriForum
AfriForum het die Nala Plaaslike Munisipaliteit versoek om dringend aandag te skenk aan die toestand van verkeersligte, padtekens en padmerke in Bothaville voordat dié gebreke tot ernstige ongelukke, beserings of selfs lewensverlies lei.
AfriForum het verskeie verkeersligte geïdentifiseer wat foutief is, nie behoorlik werk nie of instandhouding benodig. Verskeie padtekens is ook beskadig, verbleik of ontbreek heeltemal, terwyl padmerke op talle plekke só verweer het dat dit skaars sigbaar of heeltemal afwesig is.
Volgens AfriForum skep dié toestand ’n onnodige veiligheidsrisiko vir motoriste, voetgangers, fietsryers en ander padgebruikers. Die risiko is veral groot by besige kruisings en voetoorgange waar padgebruikers op duidelike tekens, verkeersligte en padmerke aangewese is om veilig te beweeg.
“Verkeersligte, stopstrepe, voetoorgange en padtekens is nie bloot kosmetiese elemente van ’n dorp se infrastruktuur nie – dit is noodsaaklike veiligheidsmaatreëls. Wanneer dit nie werk nie, ontbreek of feitlik onsigbaar is, word elke padgebruiker aan ’n groter risiko blootgestel. Die munisipaliteit moet optree vóór ’n ernstige ongeluk plaasvind, en nie eers daarna nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.
AfriForum het die Nala-munisipaliteit versoek om ’n omvattende inspeksie van Bothaville se verkeersligte te doen en foutiewe ligte dringend te herstel. Die organisasie versoek ook dat beskadigde, verbleikte en ontbrekende padtekens herstel of vervang word en noodsaaklike padmerke, waaronder stopstrepe, voetoorgange en baan- en rigtingaanwysings, oorgeverf word. Hoërisiko-gebiede en kruisings moet eerste aandag geniet.
AfriForum verwelkom intussen die feit dat die Nala-munisipaliteit reeds met slaggatherstelwerk in Bothaville begin het. Die organisasie meen egter dat padveiligheid holisties aangepak moet word en dat die herstel van die padoppervlak hand aan hand moet gaan met funksionele verkeersligte, duidelike padtekens en sigbare padmerke.
“Ons wil nie bloot probleme uitwys nie; ons wil ook deel van die oplossing wees. Die AfriForum-tak in Bothaville is bereid om, waar dit prakties moontlik is, met die identifisering en dokumentering van foutiewe verkeersligte, beskadigde of ontbrekende tekens en probleemgebiede te help. Hierdie samewerking neem egter nie die munisipaliteit se verantwoordelikheid vir die instandhouding van verkeersinfrastruktuur weg nie,” sê Pretorius.
Dié aanbod om saam te werk vorm ook deel van AfriForum se skrywe aan die munisipaliteit.
Raak by Bothaville se AfriForum-tak en -buurtwag betrokke en help om jou omgewing veilig te hou. Kontak vir CP Scheepers by 079 717 3830 om by die tak aan te sluit en vir Dolf Meyer by 073 810 9568 om by die buurtwag aan te sluit.



