|

Gaswetsontwerp bedreig mededinging, beleggingsekerheid en eiendomsreg, waarsku AfriForum

Klankgreep: Lambert de Klerk (Afrikaans)
Klankgreep: Lambert de Klerk (Engels)

AfriForum waarsku dat Wetsontwerp op Gas, sou dit in sy huidige formaat geïmplementeer word, ’n verreikende impak op die land se gasbedryf sal hê en onder meer die markstruktuur, die reguleerder se bevoegdhede, lisensiehouers se regte, eiendomsreg en beleggingsekerheid negatief sal beïnvloed. Die burgerregteorganisasie het dié waarskuwing ingesluit in sy kommentaar op die wet wat vandag ingedien is. In sy kommentaar wys AfriForum daarop dat die wetsontwerp bepalings bevat wat ernstige vrae laat oor wettigheid, administratiewe billikheid, grondwetlike eiendomsreg en gelykheid.

Die wetsontwerp brei die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se gesag oor die bepaling van gastariewe, pryse en infrastruktuur uit. Dit verleen ook aan die minister van Elektrisiteit en Energie aansienlike bevoegdhede ten opsigte van lisensiëring, nuwe gasfasiliteite en besluite oor verskaffing. AfriForum meen dat dié aspekte van die wetsontwerp te veel ruimte laat vir onsekerheid en oormatige administratiewe beheer.

Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake, wys daarop dat die organisasie se kommentaar fokus op verskeie artikels van die wetsontwerp wat handel oor regsekerheid, eiendomsreg, diskresionêre bevoegdhede van die uitvoerende gesag, oorgangsbeskerming en billike afdwinging.

“Hierdie bepalings staan aan die kern van die hele gasraamwerk en bepaal wie tot die mark mag toetree, hoe die mark gereguleer word, die vlak van beleggersekerheid en die omvang van die staatsingryping in privaat aktiwiteite,” verduidelik De Klerk.

“Suid-Afrika het ’n gasraamwerk nodig wat belegging en ontwikkeling aanmoedig deur middel van duidelike reëls en voorspelbare prosesse. ’n Raamwerk wat te veel mag in die hande van die staat konsentreer, risiko’s vir monopolievorming skep en kritieke besluite aan breë diskresie oorlaat, sal die teenoorgestelde uitwerking hê. Die wetsontwerp moet regsekerheid bied, eiendomsreg beskerm en deursigtig funksioneer indien dit die land se langtermynbelange moet dien,” sluit hy af.

AfriForum sal voortgaan om oor die wetsontwerp te skakel en alle relevante stappe oorweeg ten opsigte van bepalings wat mededinging verswak, beleggersvertroue ondermyn of grondwetlike regte in gevaar stel.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik