|

Onteieningswet: Finale argumente in hofsaak eers later aangehoor

Klankgreep: Ernst van Zyl (Afrikaans)
Klankgreep: Ernst van Zyl (Engels)

AfriForum en ander applikante se hofsaak om die grondwetlikheid van die Onteieningswet uit te daag, is vanmiddag in die Wes-Kaapse Hooggeregshof in Kaapstad uitgestel tot ’n latere datum nadat nie alle regspanne kans gekry het om hul argumente te lewer nie. Vele applikante en respondente is by hierdie saak betrokke. AfriForum het as een van die applikante in dié saak op die eerste en tweede dag van die verhoor vandeesweek kans gekry om sy saak te stel. Die organisasie se regspan moet nog repliek lewer, terwyl drie respondente en drie vriende van die hof nog hul argumente moet voorhou en die applikante ook nog kans moet kry om repliek te lewer voordat die saak kan afsluit.

AfriForum se kernargument in hierdie saak is dat artikels 12(3), 12(4) en 19(8) van die Onteieningswet geskrap en artikel 19(2) weens die ongrondwetlikheid daarvan gewysig moet word.

Die organisasie hou vol dat artikels 12(3) en 12(4), wat onteiening sonder vergoeding moontlik maak, strydig is met artikel 25 van die Grondwet. Daarbenewens laat artikels 19(2) en 19(3) onteiening toe vóór vergoeding ooreengekom of deur ’n hof beslis is. President Cyril Ramaphosa het reeds in Oktober verlede jaar in sy beantwoordende verklaring erken dat dié artikels van die wet ongrondwetlik is. AfriForum argumenteer ook dat artikel 19(8) van die wet geskrap moet word omdat dit onteiening toelaat ongeag of ’n appèl teen die onteiening gebring is of nie.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, berokken die onsekerheid oor eiendomsreg – wat volgens hom deur die ANC aangeblaas is – steeds groot skade aan die land se ekonomie terwyl die uitgerekte regsproses voortduur.

“Skaars tien dae nadat president Ramaphosa bekendgemaak het dat hy die Onteieningswet onderteken het, het die VSA aangekondig dat dit, weens die regering se miskenning van eiendomsreg, stappe teen Suid-Afrika gaan instel. Solank daar ’n wet is wat onteiening sonder vergoeding moontlik maak, sal beleggers uit ander lande, wat dalk minder uitgesproke is, ook huiwerig wees om in Suid-Afrika te belê,” waarsku Kriel.

Ernst van Zyl, AfriForum se hoof van openbare betrekkinge, meen die organisasie se senior regspan het hulle die afgelope week puik van hul taak gekwyt om die ongrondwetlikheid van die Onteieningswet uit te wys. “Ons A-span-regspan se argumente in hierdie saak was koeëlbestand en waterdig – meer kon ons regspan nie gedoen het nie,” sluit Van Zyl af.

AfriForum sal die datums van die hervatting van die saak kommunikeer sodra dit aangekondig word.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik