|

Dringende optrede nodig om vullisterreine in Tshwane-metro reg te ruk

Die vier vullisterreine in die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit – Ga-Rankuwa, Soshanguve, Hatherley en Bronkhorstspruit moet dringend aandag kry ten opsigte van die rehabilitasie- en uitbreidingstrategieë wat van toepassing is. Volgens AfriForum het dié vullisterreine ’n gemiddeld van 64% behaal tydens die organisasie se jaarlikse vullisterreinoudit. Hoewel hierdie vullisterreine aan die minimum standaarde vir vullisterreine voldoen is daar kritieke kwessies wat dringend aandag verg – soos die lugkapasiteit van hierdie vullisterreine wat byna uitgeput is.

Dit is verdere rede tot kommer dat daar, te midde van beperkte lugkapasiteit en die stadige toepassing van die rehabilitasie- en uitbreidingstrategieë, geen duidelike vooruitsigte of planne vir die ontwikkeling van nuwe vullisterreine in die Tshwane-metro is nie. 

“Dit is belangrik om ’n omvattende en volhoubare afvalbestuursplan te hê, iets wat hier tekortskiet. Belastingbetalers behoort ook die keuse te hê om alternatiewe vullisverwyderingsdienste te gebruik en hul betaling vir dié diens aan die munisipaliteit te staak,” sê Sampie Steinberg, streekshoof vir die noordstreek by AfriForum.

“Die situasie by hierdie vullisterreine onderstreep die noodsaaklikheid vir verbeterde strategiese beplanning en doeltreffende implementering van afvalbestuuroplossings. Dit is ook belangrik dat herwinningsinisiatiewe aktief bevorder en ondersteun moet word aangesien dit bydra tot die vermindering van druk op stortingsterreine en ook om ekonomiese- en omgewingsvolhoubaarheid in gemeenskappe te versterk.”

AfriForum doen ’n beroep op inwoners om by hierdie inisiatiewe betrokke te raak en om saam te werk om ’n skoner, gesonder en meer volhoubare omgewing vir toekomstige geslagte te verseker. Proaktiewe optrede en samewerking tussen die publiek en plaaslike owerhede is van kardinale belang om die uitdagings in afvalbestuur doeltreffend aan te spreek.

Sluit aan by www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings