Dringende hofaansoek dreig indien Emfuleni-munisipaliteit nie rioolprobleem oplos




AfriForum doen ’n beroep op die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit om binne die volgende drie dae ’n volledige noodaksieplan voor te lê en aan te dui hoe die voortdurende rioolbesoedeling by pompstasies 8 en 10 in Drie Riviere, Vereeniging onmiddellik gestop gaan word. Dit volg nadat dit onder die organisasie se aandag gekom het dat duisende liters rou riool daagliks in die Vaalrivier invloei as gevolg van stukkende pompe.
Indien die munisipaliteit versuim om te reageer sal AfriForum die hof op ’n dringende basis nader om die munisipaliteit te dwing om op te tree. AfriForum het by monde van sy regspan die munisipaliteit herinner aan sy grondwetlike en statutêre pligte en dat hierdie pligte tans verbreek word deur toe te laat dat rou riool onafgebroke in die Vaalrivier inloop.
Hierdie jongste geval van rioolbesoedeling kom te midde van verskeie ander regsaksies teen die Emfuleni-munisipaliteit oor rioolbesoedeling elders in dié munisipaliteit. Drie van hierdie sake is deur AfriForum geïnisieer en sal weer op 1 September 2026 voor die hof dien.
Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentraalstreek, is die situasie lankal nie meer bloot die gevolg van swak bestuur nie, maar eerder van volgehoue onbevoegdheid en die afwesigheid van aanspreeklikheid. “April Ntuli tree al vir meer as vier jaar op as die munisipale bestuurder van die Emfuleni-munisipaliteit, maar in plaas daarvan dat die situasie moes verbeter het dit onder sy leiding net verder handuit geruk. Die Vaalrivier word steeds besoedel, infrastruktuur stort verder ineen en inwoners se grondwetlike reg op ’n omgewing wat nie skadelik is vir hulle gesondheid nie word daagliks geskend.”
Grobbelaar sê dit is onaanvaarbaar dat belastingbetalers telkens die rekening moet optel wanneer die munisipaliteit weens sy eie versuim hof toe gesleep word. “Elke keer wanneer AfriForum die hof moet nader om die munisipaliteit te dwing om sy wetlike pligte na te kom, word openbare geld aangewend om die saak teen te staan. Dit beteken inwoners betaal twee keer, eers met hul belastinggeld vir dienste wat hulle nie ontvang nie en daarna weer vir die munisipaliteit se regskoste. Dit is eenvoudig onregverdig.”
AfriForum is van mening dat die tyd aangebreek het dat individuele aanspreeklikheid ernstig oorweeg word. “Ons sal graag wil sien dat diegene wat verantwoordelik is vir hierdie volgehoue administratiewe versuim, ook persoonlik aanspreeklik gehou word waar die reg daarvoor voorsiening maak. Wanneer senior amptenare jaar na jaar versuim om hul statutêre pligte na te kom, kan dit nie langer slegs die publiek wees wat die finansiële gevolge dra nie.”
Volgens Grobbelaar is die omvang van die omgewingskade katastrofies. “Rou riool vloei reeds vir ’n geruime tyd onbehandeld in die Vaalrivier in. Hierdie besoedeling vernietig ’n strategiese waterbron waarvan miljoene mense afhanklik is en stel inwoners aan ernstige gesondheidsrisiko’s bloot. Dit is nie eenvoudig net ’n plaaslike diensleweringsprobleem nie, dit is ’n nasionale omgewingskrisis.”
AfriForum beklemtoon dat die dringende hofaansoek nie daarop gemik is om skadevergoeding te eis nie, maar om die munisipaliteit deur middel van ’n hofbevel te dwing om sy grondwetlike en wetlike verpligtinge na te kom en die voortdurende rioolbesoedeling onmiddellik te beëindig. “Die gemeenskap en omgewing verdien beter. Indien die munisipaliteit nie binne die volgende drie dae daadwerklik optree nie, sal AfriForum die hof vra om in te gryp. Ons sal aanhou om alle beskikbare regsmeganismes te gebruik totdat hierdie omgewingsramp gestop is en verantwoordbare bestuur herstel word. Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het oor die jare heen bewys dat hy nie in staat is om kritieke water- en rioolinfrastruktuur behoorlik te bestuur nie. Dit is tyd dat die regering ernstig begin kyk na alternatiewe bestuursmodelle waar bevoegde gemeenskapsinstellings en ander geskikte rolspelers ’n groter rol kan speel in die bestuur en instandhouding van hierdie noodsaaklike infrastruktuur. Die inwoners kan nie langer gyselaar gehou word deur ’n munisipaliteit wat herhaaldelik versuim om sy grondwetlike pligte na te kom nie,” sluit Grobbelaar af.



