Nuuskommentaar: Gayton McKenzie: Die man in die spervuur
Deur Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum
Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur met minister Nathi Mthethwa aan die stuur, was gereeld in omstredenheid gehul. Dink byvoorbeeld aan die vlagpaalprojek.
Toe Gayton McKenzie die leisels oorneem, was daar groot verwagtinge. Die minister het plegtig belowe onsinnige wanspandering op onder meer naamsveranderinge gaan ’n einde kry en die soustrein wat kornuite na internasionale sportbyeenkomste neem, het finaal tot stilstand gekom.
Die hoop het helaas beskaam. Die departement bly in die spervuur oor hierdie en vele ander kwessies.
Op 6 Februarie vanjaar het die minister die verandering van 21 plekname in die Staatskoerant bevestig. Dit sluit die omstrede verandering van Graaff-Reinet in, wat nou in die hof deur AfriForum teengestaan gaan word. Aanvanklik het die minister nie AfriForum se aansoek geopponeer nie, maar nou het sy regspan aangekondig dat hulle wel beoog om dit te doen – toevallig in die week wat McKenzie fel onder kritiek deurloop oor die spandering van R31 miljoen vir die Suid-Afrikaanse afvaardiging se reiskoste tydens die pas afgelope FIFA Wêreldbekertoernooi.
Sportgeleenthede trek skynbaar gereeld aan die kortste end. In 2025 het McKenzie se heraanwending van R82 miljoen, wat vir voetsoolvlak sportontwikkelingsprogramme geoormerk was, na luukse projekte soos die verkryging van video-assistent-skeidsregtertegnologie woede ontlok. Toe vanjaar se Corona Ope van die World Surf League (WSL) by Jeffreysbaai weens ’n gebrek aan befondsing gekanselleer is, was die minister weer in die kollig, met beskuldigings oor kommunikasieprobleme wat oor en weer geslinger is. Hierdie kansellasie het die Oos-Kaap duur aan toerisme-inkomste, werksgeleenthede én reputasieskade gekos.
Hierdie kansellasie het die Oos-Kaap duur aan toerisme-inkomste, werksgeleenthede én reputasieskade gekos.
Van kommunikasieprobleme kan instellings getuig – selfs prokureursbriewe aan die minister se kantoor word nie eens met die gebruiklike erkenning van ontvangs beantwoord nie.
Kuns byt ook ’n spit af. Afgesien van klagtes oor gebrekkige befondsing, het die minister se verbod op die kunstenaar Gabrielle Goliath se deelname aan die 2026 Venesiese Biënnale in die hof gedraai. Die regter se uitspraak het McKenzie in Februarie gelyk gegee dat hy haar deelname kon keer, maar die kunstenaar oorweeg om daarteen te appelleer. Sy het voortgegaan om haar werk onafhanklik in Italië uit te stal in reaksie op die gevaarlike presedent wat die minister se sensuur na haar mening vir kunstenaarsvryheid inhou.
Al meer vrae duik verder op oor McKenzie se aanstelling van prominente lede van sy party, die Patriotic Alliance (PA), in entiteite wat onder sy departement val. In ’n vergadering van die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Sport, Kuns en Kultuur verlede week, het lede van die finansieringspaneel van die departement se 2025/2026 Mzansi Golden Economy-projek (MGE) getuig dat hulle nie demokraties verkies is nie, maar direk deur die minister genooi is om in die paneel te dien. Soortgelyke vrae is in November 2025 gevra oor PA-lede wat in die Robbeneiland-raad aangestel is, insluitend Bernardo Maralack, wat ook as voorsitter van die Nasionale Biblioteekraad dien.
In ’n pos wat juis die viering van die land se kulturele diversiteit moet vier, sorg McKenzie gereeld vir kontroversie – byvoorbeeld met sy gebruik van die k-woord en klagtes oor sy beweerde xenofobiese uitlatings. Terwyl hy hierdie beskuldigings ontken, beskuldig hy die Bokkieweek se organiseerders van apartheidsnostalgie en sê dat hy nie hierdie byeenkoms, wat ’n privaat inisiatief van een van die land se kultuurgemeenskappe is, sal duld nie.
Só dobber die departement dan voort met ’n nuwe kaptein, maar in soortgelyke troebel waters te midde van hierdie en meer aantygings van korrupsie, wanbestuur, onvervulde beloftes, nepotisme, asook ’n gebrek aan aanspreeklikheid en deursigtigheid – ’n betreurenswaardige toestand vir sport, kuns en kultuur in die land.



