|

AfriForum se buurtspan help om Secunda reg te ruk

Parke wat oorgroei is met bosse, slaggate in die paaie, infrastruktuur wat nie in stand gehou word nie, en ’n munisipaliteit wat bloot nie hul pligte kan nakom nie, is die storie van Secunda. Dis die slegte nuus, maar die goeie nuus is dat verskeie rolspelers – insluitend die buurtspan van AfriForum se tak in dié dorp – hierdie munisipale verval teenwerk.

Hennie Bekker, AfriForum se streekshoof vir Mpumalanga en Limpopo, sê Secunda is ongelukkig nie meer die pragtige dorp wat dit was nie. “Secunda was ’n pragtige dorp in die 1980’s. Die ontwerp van die dorp het verskeie groenstroke ingesluit wat, indien dit gediens word, baie mooi is. Ongelukkig het munisipale diens platgeval wat daartoe gelei het dat gras en ander plante in die groenstroke buite beheer gegroei het. Die buurtspan fokus juis daarop om hierdie stroke weer mooi te maak.”

AfriForum se buurtspan het onlangs ’n projek saam met die Groenstrook Gabbas, ’n gemeenskapsorganisasie wat op die been gebring is om Secunda se groenstroke netjies te maak, aangepak om hiasinte uit die Eendeparkdam te verwyder. Dis een van vele skoonprojekte waaraan die span tot dusver vanjaar gewerk het. In Augustus alleen is nagenoeg 400 bakkievragte gras, bosse, vullis en dies meer by die onderskeie skoonmaakprojekte weggery. Daar is ook meer as 55 hektaar gras gesny.

Bekker sê die werk wat die buurtspan doen, is broodnodig vir Secunda en sy mense. “As ’n mens kyk na hoeveel die dorp agteruitgaan het en watse gevare en risiko’s dit vir inwoners skep, is dit duidelik dat die buurtspan se werk baie belangrik is. Parke en groenstroke waar gras lank groei, hou ’n brandgevaar in en gee boonop misdadigers ’n plek om weg te kruip. Die buurtspan help om hierdie risiko’s te bekamp en AfriForum sal as gemeenskapsbouers aanhou om ons deel te doen om ons gemeenskappe uit te bou en ons dorpe veiliger plekke te maak om te woon.”

Die buurtspan gaan in November ’n reuseslaggatprojek van stapel stuur. Die teer vir die projek is reeds aangekoop om die strate van Secunda meer begaanbaar en veiliger te maak.

Besoek die Secunda-tak se Facebook-blad om te sien watter ander projekte hulle in die toekoms gaan aanpak.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf