Annebellle: Waar geloof en kreatiwiteit in iets tasbaar ontwikkel
Deur Ischke van Eeden
Die ontstaan van Annebelle: The Women Wonderland volg nadat Annemarie Coetzee, ’n entrepreneur van Nigel, deur ’n jong vrou geïnspireer is wat haar eie onderneming opgebou en laat groei het. Haar voorbeeld het Coetzee aangemoedig om te glo dat sy ook iets van haar eie kan begin. Coetzee glo ook die Here het idees in haar hart geplaas en die moed gegee om die eerste tree te gee.

Vandag is Annebelle: The Women Wonderland al vier jaar oud. Annebelle is ’n aanlyn winkel waar geloof en kreatiwiteit saamgeflans is in mooi betekenisvolle produkte vir vroue. Die onderneming se hooffokus is Christelike temas met ’n reeks wat Bybelsakke, kaalvoetskoene, rokke met unieke illustrasies en ’n uitgesoekte versameling Christelike juwele insluit. Die Bybelsakke word gemaak van vilt uit herwinde plastiekbottels – iets besonders wat ook aan bestaande materiaal nuwe waarde gee.
“Ons is ’n familiebesigheid wat deur God se genade ontstaan het met die droom om werk te skep. Deur ons produkte wil ons vroue help om hul geloof en persoonlikheid op ’n mooi, unieke manier uit te leef,” sê Coetzee, stigter van Annebelle.
Coetzee was vanjaar een van die top 10-finaliste in AfriForum se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie. Sy bestuur Annebelle, terwyl sy ook ’n halfdagpos in die korporatiewe wêreld beklee.
“Dit was vir my ’n positiewe ervaring om aan die kompetisie deel te neem. Die kompetisie het my laat stilstaan en besef hoe ver Annebelle deur God se genade gekom het. Ek het geleer om met vars oë na my besigheid te kyk, beter te verwoord wat ons besonders maak en raak te sien waar ons kan verbeter. Ek stap weg met meer selfvertroue en ’n duideliker plan om Annebelle te laat groei en meer werk te skep,” sê Coetzee.

Annebelle se sukses het egter nie oornag gebeur nie. Coetzee het aanvanklik met Bybeltema-verrassingspakkies vir kinders en persoonlike juwele begin. Dit het nie regtig vlamgevat nie, maar sy het bly soek na ’n produk wat by Annebelle se visie pas. Só het die idee ontstaan om Bybelsakke met unieke Bybeltema-illustrasies te maak. Sy het drukkers gevind wat die illustrasies op vilt uit herwinde plastiekbottels kon druk en haar ma het die sakke gemaak. Dit was die begin van iets besonders.
Coetzee se grootste struikelblok aan die begin was om kliënte te bereik. Sy het produkte gehad waarin sy geglo het, maar moes uitvind hoe om dit sigbaar te maak en die regte mense daarvan te laat hoor. Sy het Facebook-advertensies begin leer en dit self bestuur. Dit was ’n proses van probeer, foute maak en aanpas om te verstaan watter foto’s, boodskappe en produkte mense se aandag trek. Deur aan te hou leer en toets, kon sy meer potensiële kliënte bereik en verkope begin opbou. Hierdie ervaring het haar geleer dat sy nie alles van die begin af hoef te weet nie, maar bereid moet wees om te leer en aan te hou wanneer iets moeilik is.

Coetzee se langtermynvisie is om Annebelle tot ’n gevestigde, volhoubare handelsmerk te laat groei wat bekend is vir unieke produkte, goeie gehalte en Christelike waardes, en om verdere werksgeleenthede te skep.
“Werkskepping bly die hart van my droom. My volgende doelwit is om ’n bekwame naaldwerkster aan te stel sodat ons meer produkte self kan vervaardig. Om die regte persoon in ons klein dorpie te vind, is egter ’n uitdaging wat ek nog moet oplos. Ek wil ook ondersoek hoe ons plaaslike talent kan help ontwikkel,” sê sy.
Nog ’n groot doelwit is om Annebelle se klerereeks uit te brei en ook die winkel wat as ’n pakhuis bedryf word, in ’n instap-winkel te omskep. “Dit sal baie lekker wees om ’n regte “women wonderland”-gevoel te skep en ook sitplekke en koffie vir die dames te bied. Ons het alreeds die pakhuis soos ’n winkel laat lyk en kan binnekort ons deure vir die publiek oopmaak. Ons moet net besluit wat die regte besigheidsure sal wees,” sluit Coetzee af.



