Pretoria-kampusopedag: Akademia bied soveel méér as net studie
Deur Megan Swart
Studentwees behels soveel méér as net studie, daarom is die besluit oor watse hoëronderwysinstelling om naskoolse studies by voort te sit, ’n lewensveranderende een. Akademia is ’n Christelike onafhanklike hoëronderwysinstelling, wat met die oog op ’n betekenisvolle toekoms, ope dae vandeesweek aan voornemende studente bied.
“By Akademia is studentwees soveel méér as net jou studie en is jy nie net nóg ’n studentenommer nie. Dit is ’n plek waar jy sinvolle gesprekke kan voer, lewenslange vriendskappe kan smee en waar jy roepingsgedrewe die toekoms tegemoetstap,” sê Lizán Maree, Akademia se bemarkingsbestuurder.
Akademia se Pretoria-kampusopedag vind vanjaar op 24, 25 en 27 April plaas. Dié dae bied aan voornemende studente die unieke geleentheid om ’n ware ervaring van studentwees te kry, nog voordat hulle self ’n student is.
“Die ope dae is nie net ’n vertoonvenster van wat Akademia bied nie, maar ’n geïntegreerde belewenis van Akademia se denke én hart,” sê Maree.
Die ope dae word op Akademia se persele aangebied sodat besoekers ’n gevoel van die kampuservaring kan kry. Die inligtingsessies oor studieprogramme word in lesinglokale deur die studieprogram se dosente aangebied, wat vir besoekers ’n ware gevoel gee van hoe dit gaan wees om klas op kampus te draf. Tydens die ope dae, sal voornemende studente en hul ouers ook die dosente kan ontmoet en eerstehands vanaf huidige studente hoor oor húl ervaring.
“Soveel studente getuig daarvan dat die ope dag die finale beslissende faktor in hul besluitnemingsproses was,” sluit Maree af.
Besoek www.akademia.ac.za/kampusopedag-2026/ om vandag nóg jou plek by die opedag te bespreek.



