Só het die regering syfers oor grondeienaarskap “gemanipuleer”
Deur Ilze Nieuwoudt
Bewerings dat 72% van grond in Suid-Afrika in die besit van wit mense is, is vals en daarop gemik om rassespanning oor grondbesit aan te vuur. Dit is een van die belangrikste mites wat vandag tydens AfriForum se konferensie oor grondbesit in Pretoria weerlê is.
Die konferensie vorm deel van AfriForum se breër veldtog teen die Onteieningswet – wetgewing wat voorsiening maak vir onteiening sonder kompensasie.
Ernst van Zyl, AfriForum se hoof van openbare betrekkinge, het in sy voorlegging tydens die konferensie vandag die 72%-mite in fyner besonderhede ontleed. Bewerings dat 72% van alle grond in die besit van wit mense is, word wyd en syd in politieke debatte gebruik as ’n regverdiging vir die implementering van onteiening sonder vergoeding. Die syfer spruit uit die 2017 Grondouditverslag wat saamgestel is deur die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.
Dié verslag se akkuraatheid, metodologie en interpretasie is egter twyfelagtig en in sekere gevalle blatant onakkuraat. ’n Gedetailleerde ontleding van dié aspekte is vervat in ’n feitegids wat ook vandag tydens die konferensie vrygestel is.
Die drie mees kritieke wyses waarop grondbesit in die oudit as’t ware skeefgetrek is om die regering se narratief te pas, kan soos volg opgesom word:
1. As dit “wit” klink, is die eienaar wit
Die onwetenskaplike navorsingsmetodes wat ingespan is in die 2017 Grondouditverslag het verskeie teenstrydighede tot gevolg gehad. Verskillende metodes vir die bepaling van grondbesit is boonop in dieselfde verslag ingespan en gelei tot teenstrydige bevindinge.
Volgens AfriForum se ontleding van die verslag is die kategorisering van grondbesit deur middel van vergelyking tussen verskeie datastelle. Volgens een stel is ras onder meer bepaal op die naam en van van eienaars. Indien ’n eienaar se naam dus bloot “wit”, “swart”, “Indiër” of “bruin” klink, is eienaarskap as sodanig gekategoriseer.
Van Zyl hou vol dat die regering derhalwe ’n “ingeligte raaiskoot” gemaak het met “hoogs twyfelagtige data” om die ras van grondeienaars te bepaal.

Hoewel die regering lank voor die publikasie van die oudit gewys het op die beperkings van hierdie kategoriseringsmetode, het dit nie die publikasie daarvan as kwansuise wetenskaplike feite gekeer nie. En sedertdien is die sogenaamde feite in die verslag as onweerlegbaar afgemaak.
2. “Alle grond” beteken nie werklik alle grond nie
Ondanks die bewering dat wit mense 72% van alle grond in landelike gebiede in Suid-Afrika besit, het die analise van grondbesit wat in die oudit gebruik is, slegs die besit van nagenoeg 30% van grond (probeer) bepaal.
Derhalwe is slegs sowat ’n derde van die land se sowat 122 miljoen hektaar grond op rassegronde (en boonop op ’n onbetroubare wyse) gekategoriseer. Grond wat besit word deur trusts, maatskappye en gemeenskapsgebaseerde organisasies kon klaarblyklik nie op grond van ras gekategoriseer word nie. Dié besit is derhalwe nie by die oudit se berekeninge ingesluit nie ongeag die feit dat sowat die helfte van alle grond in privaat besit aan dié kategorieë grondeienaars behoort.
Een van die land se grootste enkele grondeienaars, die Ingonyama Trust, is dus nie ingereken by die oudit se rasseberekeninge oor grond nie. Dié trust se grond strek oor ’n reusagtige stuk aarde in KwaZulu-Natal en beslaan nagenoeg ’n derde van dié provinsie se grondgebied – ’n provinsie met van die vrugbaarste landbougrond in die land.

Indien die uitgeslote grond saam getel word, blyk dit dat ’n totaal van sowat 69% van grond glad nie deel was van die berekeninge om grondeienaarskap aan die hand van ras te bepaal nie.
3. Alle grond is nie “gelyk” nie
Die oudit se rassekategorisering van grondbesit in Suid-Afrika, veronderstel verkeerdelik dat alle grond – ongeag die ligging daarvan – ewe bewerkbaar, oftewel bruikbaar, is.
Volgens Van Zyl word slegs sowat 26,4% van grond in Suid-Afrika as bewerkbaar geag. Boonop is ’n noemenswaardige hoeveelheid grond in die besit van wit mense geleë in van die land se droogste gebiede wat die bewerkbaarheid van die grond uiters uitdagend maak.

“Hoewel geen van die land se 26,4% bewerkbare grond in die Noord-Kaap geleë is nie, is die grootste persentasie grond wat tans as landbougrond bewerk word, wel hier geleë. Boonop is veel groter stukke grond nodig vir weiding as in ander provinsies. Die blote grootte van grond veroorsaak daarom noodgedwonge ’n skeefgetrekte beeld van grondbesit,” verduidelik Van Zyl.
- Burgert Gildenhuys, ’n kenner in munisipale beplanning, ruimtelike, ekonomiese ontwikkeling en plaaslike regeringsfinansies, en dr. Theo de Jager, voorsitter van die Suider-Afrikaanse Agri-inisiatief (Saai), het ook as sprekers opgetree.
- ’n Opname van die volledige konferensie is beskikbaar op AfriForum se YouTube-kanaal beskikbaar.



