|

Bejaarde Kiepersol-inwoners kan nie vir Tshwane-metro se mislukkings boet – AfriForum

AfriForum sal die Kiepersol Gemeenskapsentrum in Eldoraigne, Centurion bystaan om die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit se voorgenome aansoek tot ’n verklarende bevel, te opponeer. Die metro het vroeër vandeesmaand ’n uitsettingsaansoek by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien om nagenoeg 300 bejaardes te forseer om binne 60 dae dié sentrum te verlaat.

AfriForum meen dat die inwoners van die sentrum nie vir die metro se eie administratiewe tekortkominge behoort te boet nie. Die burgerregteorganisasie eis nou dat die metro die uitsetting terugtrek en die sentrum se aansoek om ’n skriftelike huurooreenkoms behoorlik en binne ’n redelike tyd hanteer.

Die sentrum is op ’n perseel geleë wat aan die Tshwane-metro behoort en huur die eiendom al sedert 1999.  Die Centurion Raad vir Bejaardes het, ingevolge die oorspronklike ooreenkoms, die reg tot hernuwing van die huurooreenkoms gehad en in Julie 2009 is daar om hernuwing aansoek gedoen. Ondanks talle pogings oor die afgelope 17 jaar om ’n skriftelike huurooreenkoms te beding, het die Tshwane-metro versuim om die administrasie om die huurooreenkoms behoorlik af te handel. Die metro het egter in hierdie tyd voortgegaan om rekeninge aan die sentrum uit te reik, wat die sentrum betyds of selfs vooruit betaal het. In Junie 2024 is daar weer ’n skriftelike huurooreenkoms versoek, sonder enige terugvoer van die metro.

“Die Tshwane-metro het deur sy swak administrasie, gebrekkige kommunikasie en teenstrydige besluite self hierdie krisis veroorsaak. Dit is onaanvaarbaar dat bejaardes en ’n organisasie wat reeds dekades lank ’n noodsaaklike gemeenskapsdiens lewer, nou hiervoor moet boet,” sê Maree van den Berg, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria-Suid.

AfriForum het intussen ’n petisie van stapel gestuur om verdere druk op die metro te plaas om hierdie uitsetting te stop. Teken dié petisie hier.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf