AfriForum-tak skenk toerusting aan Augsburg Landbougimnasium
AfriForum se Sederberg-tak het op 25 November ’n groot witbord en ’n projektor aan Augsburg Landbougimnasium in Clanwilliam oorhandig. Dié bekende landbouskool in die Weskus-Sederberg-gebied het reeds talle suksesvolle boere en jong, voornemende boere opgelewer.
Hierdie skenking vorm die grondslag vir ’n langtermynsamewerking tussen AfriForum en Augsburg Landbougimnasium om ’n daadwerklike verskil in jong leerders se lewens te maak. Buks Olivier, die skoolhoof, het sy dank uitgespreek vir die skenking bevestig dat die toerusting doeltreffend aangewend sal word om leerders op te voed.
In Suid-Afrika, waar die boerderygemeenskap en landbousekuriteit onder groot druk verkeer, is dit noodsaaklik om jong boere op te lei en vir toekomstige uitdagings voor te berei. Suid-Afrika is ’n trotse landbounasie met opkomende jong boere wat die land met trots op die wêreldverhoog verteenwoordig.
Tydens die oorhandiging van die toerusting het Wouter Vierbergen, tesourier van AfriForum se Sederberg-tak, die belangrikheid van ondersteuning aan die landbousektor en opleiding van ’n nuwe generasie boere beklemtoon. AfriForum bedank Augsburg Landbougimnasium vir sy ontvanklikheid en die Sederberg-tak vir sy onbaatsugtige bydrae tot die skool.



