AfriForum911-reaksie-eenheid help met arrestasie van vermeende rowers
AfriForum911 se reaksie-eenheid in Bloemfontein het gister, in samewerking met MATA SEC en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), vinnig opgetree ná berigte van ’n gewapende rooftog en twee verdagtes gearresteer.
Volgens inligting is drie slagoffers vroeër glo onder die voorwendsel van ’n saamrygeleentheid beroof. Een van die slagoffers is vermoedelik met ’n mes gesteek. Die voertuig waarmee die verdagtes gery het, word ook met verskeie ander misdade verbind.
’n Gemeenskapslid het die ligging van die verdagtes se voertuig gedeel, waarna reaksie-eenhede onmiddellik gemobiliseer is. Met aankoms op die toneel (die N1-oprit by Nelson Mandela-rylaan in die rigting van Langenhovenpark) is die verdagtes genader en bykomende ondersteuning het kort daarna opgedaag.
Tydens die operasie is ’n replika-vuurwapen in die voertuig gevind, asook dwelms, waaronder Mandrax en tik. Vermeende gesteelde selfone en ander goedere is ook in die voertuig aangetref.
Die twee verdagtes wat in hegtenis geneem is, is aan die SAPD oorhandig.
“Die gemeenskap se betrokkenheid in misdaadbekamping, soos die deel van inligting, speel ’n kritieke rol om vinnige reaksie moontlik te maak en misdadigers vas te trek,” sê Christo Groenewald, distrikskoördineerder van AfriForum in Bloemfontein.
Hierdie suksesvolle arrestasie beklemtoon die waarde van samewerking tussen gemeenskapsveiligheidstrukture, private sekuriteitsmaatskappye en wetstoepassingsagentskappe. AfriForum911 se reaksie-eenheid bly daartoe verbind om gemeenskappe veiliger te maak deur vinnige optrede en doeltreffende samewerking.




