Gras groei beslis nie onder AfriForum-takke se voete nie
Maart was landwyd ’n bedrywige maand vir AfriForum se takke. Slaggate, lang gras en verwaarloosde padmerkers is onder meer danksy AfriForum se vrywilligers herstel, gesny en oorgeverf. Sommige takke is selfs gelukkig genoeg om ’n voltydse buurtspan te hê wat hul vermoë om munisipale verval teë te werk, verder uitbrei.
Noordstreek
In die Noordstreek is gedurende Maart bykans 15 ton teer aangewend om slaggate te herstel. Meer as 10 ton hiervan is in Bethal gebruik. Veiligheid op paaie is in Volksrust ’n verdere hupstootjie gegee met 25 stoptekens wat vervang is en in Springs is twee spoedhobbels wat verweer was, oorgeverf en vyf padtekens stewig vasgemaak om diefstal te voorkom.
Gras groei beslis ook nie onder die voete van AfriForum se manne en vroue in die Noordstreek nie. Daar is in Maart amper 150 hektaar gras by die onderskeie takke gesny. Twee van AfriForum se takke in Mpumalanga was hier behoorlik op hul stukke met die Middelburg- en Chrissiesmeer-takke wat onderskeidelik 5 en 11 hektaar gras gesny het. Takke in hierdie streek het ook ’n allemintige 888 swartsakke vullis tydens skoonmaakprojekte opgeruim.

Sentraalstreek
Wanneer verskillende rolspelers saamwerk, kan meer gedoen word. In Bloemfontein het Raubex, ’n verskaffer van infrastruktuur- en konstruksiemateriaal, as hoofborg opgetree in ’n slaggatprojek en nege ton teer vir die herstel van slaggate geskenk. Met hierdie enkele projek is verskeie slaggate in die Rosestad herstel. In Lichtenburg het die AfriForum-tak in Maart ’n groot slaggatprojek afgehandel waar meer as 12 ton teer aangewend is om die paaie in die dorp veiliger te maak. In laasgenoemde dorp het die tak ook agt padtekens vervang.
“Hierdie projekte gaan nie net oor teer en slaggate nie, dit gaan oor veilige paaie, vinniger nooddienste en die herstel van trots in ons dorp. Wanneer gemeenskappe self opstaan en bou waar dienslewering faal, wys dit dat mense nie net moeg is vir verval nie, maar ook dat hulle bereid is om hul toekoms terug te neem,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.


AfriForum se Pongola-tak het ná ’n verwoestende storm ingespring om opruiming te doen en 150 swartsakke se rommel opgeruim. Dié tak het ’n verdere 35 swartsakke met ander skoonmaakprojekte, insluitend die skoonmaak van die plaaslike begraafplaas, gevul. Daar is ook in Maart in Klerksdorp en Bethlehem meer as 30 swartsakke elk tydens verskeie skoonmaakprojekte gevul. In Sasolburg het die AfriForum-tak in Maart ook nagenoeg 20 hektaar gras gesny.
As gemeenskapsbouers fokus AfriForum in 2026 op skole as spilpunte waar sterk gemeenskappe gebou kan word. As deel van dié fokus het AfriForum in Maart veiligheidsoudits by tien skole in die Sentraalstreek gedoen. Hierdie oudits help skole om moontlike veiligheidsrisiko’s te identifiseer en die nodige verbeterings aan te bring.
Suid- en Noord-Kaap-streek
In hierdie streek het AfriForum se takke 22 skoleoudits voltooi. Die Uitenhage-tak het oudits by 15 skole onderneem – en selfs die langpad aangedurf tot in Nxuba (Cradock) om ook hier ’n skoleoudit aan te pak. Hierdie tak het daarbenewens saam met die I Love Uitenhage, ’n plaaslike gemeenskapsorganisasie, die waterval naby die stasie skoongemaak en met hul onderskeie skoonmaakprojekte 210 swartsakke gevul.
Knysna se buurtspan het op hul beurt 100 liter verf vir hul onderskeie verfprojekte en 300 kg teer vir die herstel van slaggate aangewend.
“AfriForum se buurtspanne is die volgende stap in ons strewe na selfstandige gemeenskappe. Dit gee ons die uitvoerende vermoë om gebrekkige dienslewering of krisisse doeltreffend aan te pak ’n wyse wat ’n onmiddellike verskil in inwoners se lewe maak,” verduidelik Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder in die Suid-Kaap.



