| |

AfriForum waarsku teen militarisering van rampbestuur te midde van weermag se eie krisis

Klankgreep: Tarien Cooks (Afrikaans)
Klankgreep: Tarien Cooks (Afrikaans)
Klankgreep: Tarien Cooks (Engels)
Klankgreep: Tarien Cooks (Engels)

Die huidige poging om die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) dieper by rampbestuur te betrek, is niks anders as ’n desperate poging om die mislukkings van die nasionale rampbestuursentrum en provinsiale rampbestuurstrukture toe te smeer nie, sê AfriForum. Dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat die nasionale rampbestuursentrum die weermag toenemend wil aanwend as deel van die staat se rampbestuurstrategie, terwyl die weermag self tans onder groot druk verkeer en klaarblyklik nie eens sy eie ontplooide soldate van basiese menswaardige omstandighede kan voorsien nie.

AfriForum se kommer volg op verskeie berigte waarin parlementslede die weermag se onderbefondsing, wanbestuur en leierskapmislukkings gekritiseer het, asook berigte oor haglike toestande waaronder soldate by Fort iKapa in die Wes-Kaap ontplooi is. Volgens die berigte word soldate gehuisves in ’n lekkende vliegtuigloods met onvoldoende toilette, geen warm water, onvoldoende kos en swak sanitasie. Die situasie word vererger deurdat die Suid-Afrikaanse Lugmag, wat die lugkomponent van die weermag is, se helikoptervloot tans nie kan vlieg nie weens brandstoftekorte en instandhoudingsagterstande. Lugondersteuning tydens rampe speel ’n kritieke rol tydens reddingsoperasies, mediese ontruimings, vloedreaksie, lugvervoer en soek-en-reddingsoperasies, veral in afgeleë gebiede waar vinnige reaksie noodsaaklik is. Dit kom egter daarop neer dat Suid-Afrika se rampreaksievermoë op die oomblik reeds ernstig verswak is.

“Die weermag moet glad nie deel vorm van nasionale rampbestuur nie. Die wet is baie duidelik daaroor dat die weermag slegs in ’n ondersteunende kapasiteit opgeroep kan word tydens ’n ramp. Dit is nie die weermag se funksie om die staat se swak rampbestuurstelsels oor te neem of te probeer red nie,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis van AfriForum.

Ingevolge artikel 15(2)(aA) van die Rampbestuurswet kan die weermag slegs ontbied word om rampbestuurstrukture te ondersteun. Die wet plaas die primêre verantwoordelikheid vir rampbestuur duidelik op die nasionale rampbestuursentrum, provinsiale rampbestuur en munisipale rampbestuur.

“Rampbestuur is ’n hoogs gespesialiseerde terrein wat behoorlike opleiding, infrastruktuur, logistiek, koördinering en aanspreeklikheid vereis. Die verdeling van hierdie verantwoordelikhede oor verskillende staatsdepartemente gaan die krisis net verder vererger,” sê Cooks.

AfriForum wys verder daarop dat die nasionale rampbestuursentrum tans nie eens sy bestaande verantwoordelikhede behoorlik uitvoer nie. Ondanks die ernstige vloede wat verskeie provinsies onlangs geraak het, is daar geen formele rampverklarings gemaak nie, wat beteken dat kritieke fondse vir infrastruktuurherstel en noodverligting nie beskikbaar gestel word nie. Daar is ook geen werklike aanspreeklikheid of daadwerklike koördinering vanuit nasionale vlak nie.

“Die nasionale rampbestuursentrum klassifiseer tans bloot rampe sonder om daadwerklik leiding te neem. In plaas daarvan om hul grondwetlike en wetlike pligte uit te voer, probeer hulle nou die weermag gebruik as ’n pleister op ’n stelsel wat reeds besig is om in duie te stort,” voeg Cooks by.

AfriForum beklemtoon verder dat artikel 200 van die Grondwet, wat handel oor die weermag,  duidelik bepaal dat die primêre doel van die weermag is om die Republiek, sy territoriale integriteit en sy mense te verdedig en te beskerm. Daar is geen bepaling in hierdie wetgewing wat vereis dat die weermag as ’n voltydse rampbestuursinstelling moet funksioneer nie.

Die organisasie waarsku ook dat verdere fondse wat moontlik na sulke programme gekanaliseer word, waarskynlik bloot nóg ’n voorbeeld van staatsvermorsing gaan wees.

“Die weermag sukkel reeds om een enkele ontplooiingsoperasie behoorlik te bestuur. Nou wil die staat hê dieselfde instelling moet gelyktydig by verskeie rampsituasies betrokke raak. Dit is onverantwoordelik en gevaarlik,” sê Cooks.

AfriForum meen die fokus moet eerder wees op die herstel van provinsiale rampbestuurstrukture, behoorlike implementering van die Rampbestuurswet en die afdwing van aanspreeklikheid by die nasionale rampbestuursentrum.

“Voordat die weermag nóg verantwoordelikhede opgelê word, moet die nasionale rampbestuursentrum eers seker maak dat die ander agt provinsies – buiten die Wes-Kaap se rampbestuur – op standaard funksioneer en dat provinsies hul werk doen waarvoor belastingbetalers reeds betaal,” sluit Cooks af.

Soortgelyke plasings

Veiligheid