TAALHELDE: Die Bybelvertalers
Alana Bailey, hoof van kultuursake
Met die stigting van die Genootskap vir Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875 is die ideaal al uitgespel dat die Bybel in Afrikaans vertaal moes word om dit toeganklik vir Afrikaanssprekendes van alle rasse te maak. Al sou dit nog 58 jaar neem voordat die eerste volledige vertaling van die Bybel in Afrikaans bekendgestel is, het die GRA se manne gehelp om die fondasie te lê waarop dit sou geskied. Op 27 Augustus 1933 is die eerste volledige Afrikaanse Bybel amptelik in ontvangs geneem. In daardie tydstip was dit die 182ste volledige Bybelvertaling ter wêreld. Vir baie Afrikaanssprekende Christene was dit die dag waarop ons taal spreekwoordelik mondig geword het.

Die span wat vir hierdie vertaling verantwoordelik was, was ds. J.D. Kestell, dr. H.C.M. Fourie, prof. B.B. Keet, prof. E.E. van Rooyen en dr. J.D. du Toit (beter bekend as Totius).
Sedert 1933 het verskeie ander Afrikaanse vertalings van die Bybel al die lig gesien, en in die toekoms sal nog meer daaraan toegevoeg word, want taal is dinamies en ontwikkel heeltyd. Bybelvertaling is en bly ’n enorme taak, maar vir die vyf manne was dit selfs nog ’n groter uitdaging, omdat hulle geen tradisie gehad het waarop hulle kon voortbou nie. Hulle het die verantwoordelikheid gehad om die Woord van God so getrou en verstaanbaar as moontlik te vertaal in ’n jong taal wat nog aan die ontwikkel was en dus nie reeds oor ’n groot woordeskat beskik het nie.

Bowendien het die boeke van die Bybel uiteenlopende style en hulle moes dit ook so behou – van die feitelike weergawes van historiese gebeure in byvoorbeeld Konings en Kronieke, tot die digterlike styl van Psalms en die visioenêre aard van Openbaringe. Hulle moes die volle omvang van emosies kon uitdruk – van jubelsange tot klaagliedere. Aan die een kant het die Nederlandse Statebybel se formele taal vir hulle as riglyn gedien, maar aan die ander kant moes hulle die spreektaal van die Afrikaanssprekendes so na as moontlik volg. Verder moes hulle ook rekening hou met die uiteenlopende standpunte van die publiek van die dag – van dié wat reikhalsend na ’n Afrikaanse Bybel uitgesien het, tot mense wat daarteen gekant was omdat hulle die Statebybel se formele taal as meer respekvol beskou het.
Wie was die vyf lede van die span wat nie voor soveel uitdagings teruggedeins het nie, maar die vertaling as ’n roepingstaak aangepak het?
Ds. John Daniel Kestell

Ds. John Daniel Kestell is op 15 Februarie 1854 in Pietermaritzburg gebore. In 1874 het hy tot bekering gekom en besluit om predikant te word. Sy vader het ernstige finansiële terugslae gely en dit het groot opofferings van Kestell geverg om aan dié roeping te kon beantwoord.
Uiteindelik het hy in Europa gaan studeer en was naas Afrikaans, ook Nederlands, Engels, Frans, Grieks en Hebreeus magtig. Hy is in Oktober 1881 as predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) georden.
Hy word onder meer onthou vir sy werk onder die armste Afrikaners, sy bydrae as Afrikaner-kultuurleier en skrywer van beide fiksie en niefiksie, en veral ook vir sy rol as veldprediker tydens die Anglo-Boereoorlog (1899–1902). Een van die aangrypendste vertellings uit hierdie tyd handel oor hoe hy tydens die Slag van Platrand naby Ladysmith op 6 Januarie 1900 sy lewe gewaag het om Boere- en Britse gewondes te versorg.
Uiteindelik het hy, pres. M.T. Steyn en genl. C.R. de Wet as die Driemanskap van die Vrystaat bekendgestaan – hulle was naamlik die staatsman, die soldaat en die geestelike leier van die Vrystaters. Tydens die vredesonderhandelinge aan die einde van die oorlog het hy ook die belangrike taak van sekretaris van die Boeremagte volvoer.
In die dekades daarna tot sy dood op 9 Februarie 1941, het hy telkens ’n sleutelrol gespeel in aksies wat Afrikaners uit armoede en nood help opstaan het. Verder was hy ’n onvermoeide taalstryder met ’n diep liefde vir Afrikaans. In die volksmond het hy as Vader Kestell bekend gestaan en hy is saam met Steyn en De Wet aan die voet van die Vrouemonument in Bloemfontein begrawe.
Dr. J.D. du Toit (Totius)

Naas Kestell is Totius seker die mees bekende van die vyf Bybelvertalers. Hy is op 21 Februarie 1877 as Jacob Daniël du Toit in die Paarl gebore.
Van die groep vertalers was hy die een met die nouste bande met die GRA, aangesien hy die seun van S.J. du Toit, die vader van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging was. In 1882 het hy saam met sy ouers uit die Paarl na Pretoria verhuis toe sy pa as superintendent van Onderwys in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) aangestel is.
Sy aanvanklike ideaal was om ’n myningenieur te word, maar uiteindelik het hy hom geroepe gevoel om teologie te studeer en dus sy studies in Burgersdorp onder leiding van prof. Jan Lion Cachet begin.
Toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek, het hy as veldprediker by die Boeremagte aangesluit en op 11 Desember 1899 aan die Slag van Magersfontein deelgeneem.
Sy vrou, Maria, was die jongste dogter van prof. Dirk Postma, stigter van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Hulle het twee dogters en vier seuns gehad.
Skrywersbloed het duidelik in sy are geloop en hy het sy eerste gedigte onder die skuilnaam Jaduto gepubliseer. Hy was die eerste ontvanger van die Hertzogprys vir Poësie, naamlik in 1916 vir die bundel Trekkersweë. Die prys is weer in 1934 vir Passieblomme aan hom toegeken.
Totius word ook onthou as die eerste kanselier van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (1951–1953).
Hy is op 1 Julie 1953 in die huis van sy seun Japie in Pretoria aan ’n hartaanval oorlede nadat hy vyf weke lank siek was. Hy was op daardie tydstip besig met die finale afronding van die hersiene weergawe van die Bybelvertaling.
Dr. H.C.M. Fourie
Dr. Hermanus Cornelis Marthinus Fourie is op 5 Julie 1882 in die distrik Carolina gebore. Toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek, was hy besig om in Nederland te studeer, maar hy het teruggekeer om sy land te verdedig. Sy vader, genl. J.C. Fourie, het tydens die oorlog gesneuwel. Ná die oorlog het Fourie sy studies as teoloog in Nederland gaan voltooi. Hy was aan die Nederduitsch Hervormde Kerk verbonde en was ook een van die grondleggers van die teologiese fakulteit van dié kerk aan die Universiteit van Pretoria.
Die feit dat hy dertien tale magtig was, verduidelik waarom hy ’n ideale keuse as Bybelvertaler was. Hy het voorspraak gemaak daarvoor dat die Afrikaanse Bybel nie uit die Statebybel vertaal moes word nie, maar direk uit die grondtale. Saam met Totius was hy die hoofvertaler van die Ou Testament. Hy is in 1939 oorlede.
Prof. B.B. Keet

Prof. Barend Bartholomeus Keet, alom bekend as Bennie, is op 20 Junie 1885 in Alice gebore waar sy vader predikant van die plaaslike NG Kerk was.
Benewens plaaslike studies, het hy ook aan Princeton in die VSA en aan die Vrye Universiteit in Amsterdam, Nederland, gestudeer. Vir byna 40 jaar lank was hy verbonde aan die kweekskool van die Universiteit van Stellenbosch en het eers in 1959 op hoë ouderdom afgetree.
Keet het reeds in 1914 op Stellenbosch ’n voordrag gelewer oor die noodsaak daarvan dat die Bybel in Afrikaans vertaal moes word. Hy het ook baanbrekerswerk verrig met publikasies oor teologiese etiek. Hy word onthou vir soms omstrede standpunte, maar ook ’n wonderlike sin vir humor. Sy jongste broer was die Afrikaanse digter dr. A.D. Keet. Bennie Keet is op 21 Junie 1974 in Stellenbosch oorlede.
Prof. E.E. van Rooyen
Prof. Esias Engelbertus van Rooyen is op 18 Maart 1881 in Oudtshoorn gebore. Hy het aan die Victoria-kollege (vandag die Universiteit van Stellenbosch) en die Vrye Universiteit in Amsterdam, Nederland, gestudeer.
Aanvanklik was hy as leraar van die NG Kerk werksaam, maar het in 1920 ’n betrekking as hoogleraar aan die Stellenbosse Kweekskool aanvaar. Hy word veral onthou vir sy rol as Bybelvertaler, ’n taak waarmee hy van 1925 tot 1932 naas sy akademiese verpligtinge besig was, maar verskeie ander publikasies het ook uit sy pen verskyn. Hy was skynbaar ’n harde werker met sterk beginsels.
In 1950 moes hy weens swak gesondheid emeriteer. Daarna het hy na sy geboortedorp teruggekeer, waar hy op 12 September 1951 oorlede is.
Danksy hierdie vyf besondere mense, maar ook vele wat hulle voorafgegaan en opgevolg het, het ons vandag die voorreg om die Bybel in ons eie taal te lees.



