|

AfriForum verwerp rasvereistes in konsepregulasies op openbare verkryging

Klankgreep: Louis Boshoff (Afrikaans)
Klankgreep: Louis Boshoff (English)

AfriForum het kommentaar ingedien op die konsepregulasies vir die Wet op Openbare Verkryging en die rasvereistes daarin skerp veroordeel. Die regulasies bevat onder meer drempelwaardes vir die hoeveelheid tenders wat opsygesit moet word vir verskaffers wat besit word deur ’n bepaalde kategorieë persone, soos swart mense, swart vroue, swart mense met gestremdhede, militêre veterane en so meer. AfriForum se kommentaar wys daarop dat hierdie vereistes indruis teen die beginsels soos dit uitgelê is in artikel 217 van die Grondwet. Artikel 217 bepaal onder meer dat die toewysing van enige kontrak met ’n staatsorgaan moet geskied deur ’n stelsel wat regverdig, billik, deursigtig, mededingend en kostedoeltreffend is.

Artikel 60 van die konsepregulasies vereis selfs dat bieërs vir ’n kontrak met ’n staatsorgaan moet kan bewys dat 40% van hul eie verkryging bestee is aan ondernemings in swart besit. AfriForum meen dat sulke vereistes talle bevoegde en mededingende ondernemings sal diskwalifiseer. Die organisasie se kommentaar wys daarop dat openbare verkryging nie ’n doel op sigself is nie. Elke verkrygingsbesluit bepaal uiteindelik of paaie herstel word, elektrisiteitsnetwerke in stand gehou word, skoon drinkwater voorsien word, vullis verwyder word en infrastruktuur behoue bly. Die vereistes in hierdie konsepregulasies sal juis die lewering van goedere en dienste bemoeilik.

Volgens Louis Boshoff, woordvoerder van AfriForum, is rasvereistes vir openbare verkryging nie slegs ’n morele onreg nie, dit gaan uiteindelik lei tot ondoeltreffende besteding. “Gewone burgers gaan uiteindelik hiervoor betaal en die gevolge dra van substandaard dienslewering.” AfriForum se kommentaar vestig ook die aandag daarop dat openbare verkryging een van die hoofmeganismes is waardeur korrupsie plaasgevind het in Suid-Afrika se onlangse geskiedenis.

Alhoewel AfriForum erkenning gee aan dele van die regulasies wat sinvolle praktyke aanmoedig, dring die organisasie daarop aan dat die artikels wat rasvereistes bevat geskrap of gewysig moet word. “Die tesourie het geen empiriese bewyse voorsien wat verduidelik hoe uitsluitende praktyke verkrygingsuitkomste sal verbeter nie, daarom moet hierdie vereistes verwerp word,” sluit Boshoff af.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik