|

AfriForum verwelkom beslissing teen onwettige ontwikkeling in Klerksdorp – wag nou op munisipaliteit se optrede

Klankgreep: Alta Pretorius (Engels)
Klankgreep: Alta Pretorius (Afrikaans)

AfriForum verwelkom die beslissing van die Appèlowerheid van die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit wat op 30 Oktober die appèl van Molau Shady Rammala van Bageso Housing and Development Consultants van die hand gewys het. Die appèl is verwerp omdat die betrokke ontwikkelaar onder meer nie die “bevoegde en gemagtigde agent van die eienaar van die grond” was nie – ’n kernvereiste ingevolge artikel 45(1)(b) van die Wet op Ruimtelike Beplanning en Grondgebruiksbestuur.

Die Appèlowerheid het bevind dat Bageso Housing and Development Consultants, wat probeer het om die Hillview-ontwikkeling in Klerksdorp te begin, nie bevoeg was om dit te doen nie aangesien die maatskappy reeds in finale deregistrasie was. Dit beteken dat daar geen wettige entiteit bestaan het wat die aansoek kon indien of optree namens die eienaar nie.

AfriForum beskou hierdie uitspraak as ’n oorwinning vir die gemeenskap en die oppergesag van die reg. Die uitspraak beklemtoon dat ontwikkelaars nie sonder behoorlike magtiging en in stryd met wetgewing grond kan ontwikkel nie.

“Hierdie saak wys duidelik dat AfriForum se betrokkenheid in ruimtelike beplanning en grondontwikkelingsake van kritieke belang is. Ons sal nie toelaat dat onwettige ontwikkelings sonder behoorlike prosesse en openbare deelname voortgaan nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier en omliggende gebiede.  

AfriForum het die Matlosana-munisipaliteit reeds amptelik aangemaan om die onwettige ontwikkeling te staak en wag tans op terugvoer. Indien die munisipaliteit nie binne ’n redelike tydperk optree nie, sal AfriForum oorweeg om verdere regsaksie te neem om die uitspraak af te dwing en die gemeenskap se belange te beskerm.

“Ons is nie teen ontwikkeling nie – ons is teen wanorde en magsmisbruik. Wanneer ontwikkelaars sonder die nodige goedkeuring voortstorm, word gemeenskappe die slagoffers. Ons gaan toesien dat hierdie besluit eerbiedig word,” sê Pretorius.

AfriForum moedig inwoners van Klerksdorp en omliggende gebiede aan om betrokke te raak en hul plaaslike AfriForum-tak te steun in die stryd teen onbevoegde en onwettige grondontwikkelings.

Om aan te sluit by AfriForum se Klerksdorp-tak, kontak Pretorius 081 392 2071.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf