|

Brakpan-tak slyp veiligheidsvaardighede met skietopleiding

AfriForum se Brakpan-tak het die afgelope naweek skietopleiding by die Rooikraal-skietbaan net buite Brakpan aangebied as deel van die tak se voortgesette verbintenis tot die ontwikkeling van bekwame gemeenskapsveiligheidsvrywilligers. Die opleiding het 16 deelnemers die geleentheid gegee om hul skietvaardighede in toestande met beperkte sigbaarheid te oefen. Dit het verhoogde konsentrasie, dissipline en ’n deeglike begrip van veilige vuurwapenhantering geverg.

Vir gemeenskapslede wat as vrywillige buurtwaglede optree is voortgesette opleiding belangrik om vaardighede te ontwikkel en te behou. Hoewel geen opleiding elke moontlike noodsituasie volledig kan naboots nie, help gereelde oefening om lede se vertroudheid met hul toerusting, veiligheidsprosedures en verantwoordelikhede te versterk.

“Gemeenskapsveiligheid vereis meer as net die bereidwilligheid om betrokke te raak – dit vereis ook verantwoordelikheid, dissipline en ’n verbintenis tot verbetering. Ons wil verseker dat ons lede die belangrikheid van veilige vuurwapenhantering verstaan en hul vaardighede verantwoordelik ontwikkel,” sê Danie van der Merwe, protospanleier van AfriForum se Brakpan-tak.

AfriForum se veiligheidsbenadering berus op die beginsel dat gemeenskappe ’n aktiewe rol in hul eie veiligheid kan speel deur georganiseerde buurtwagte, goed opgeleide vrywilligers en samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander relevante veiligheidsrolspelers.

“Opleidingsgeleenthede soos hierdie dra by tot die ontwikkeling van gemeenskapsveiligheidstrukture wat hul verantwoordelikhede ernstig opneem en binne die raamwerk van die wet optree. Deur vaardighede voortdurend te ontwikkel, kan vrywilligers beter toegerus word om hul gemeenskappe op ’n verantwoordelike en gekoördineerde wyse te ondersteun,” sê Yvonne Gerber, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

AfriForum se Brakpan-tak bly verbind tot die bevordering van gemeenskapsveiligheid deur praktiese opleiding aan aktiewe en verantwoordelike burgers te bied.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Veiligheid