AfriForum dien formele beswaar in teen “verkoop” van munisipale eiendomme in Mangaung
AfriForum het ’n formele beswaar ingedien teen die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit se voorgenome vervreemding en langtermyn verhuring van 14 verskeie munisipale eiendomme. Een van dié eiendomme is Naval Hill in die Franklin-natuurreservaat in die hartjie van Bloemfontein. Naval Hill is dus enig in sy soort, ’n plek van ontspanning en opvoedkunde, en bevat ook geskiedkundige en kultuurbelaaide elemente. Daar is byvoorbeeld ’n figuur van ’n wit perd aan die oostelike kant van die berg wat sedert die Anglo-Boereoorlog as ’n oriëntasiepunt dien. Volgens die burgerregteorganisasie is die openbaredeelnameproses rakende die voorneme om van eiendomme ontslae te raak gebrekkig, ondeursigtig en in stryd met die vereistes van behoorlike openbare deelname.
Luidens Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein, het die organisasie reeds verskeie pogings aangewend om meer inligting oor die beplande transaksies te verkry, maar die munisipaliteit het geen reaksie gelewer nie. Groenewald sê hierdie gebrek aan terugvoer maak dit feitlik onmoontlik vir die publiek om sinvol aan die konsultasieproses deel te neem.
“Wanneer die munisipaliteit nalaat om basiese inligting te verskaf of om op navrae te reageer, word die beginsels van deursigtigheid en billikheid ondermyn. Dit bring nie net die wetlikheid van die proses in gedrang nie, maar dui ook op ’n ernstige tekort aan verantwoordbaarheid,” sê Groenewald.
AfriForum benadruk dat die organisasie as ’n belanghebbende en geraakte party in die proses geregistreer moet word en dat alle toekomstige korrespondensie aan die betrokke AfriForum-verteenwoordigers gestuur moet word.
AfriForum se brief van beswaar, wat op 23 Oktober aan Sello More, munisipale bestuurder van die Mangaung-metro, gerig is, herinner die munisipaliteit aan sy grondwetlike plig om openheid, wettigheid en verantwoordbaarheid in openbare administrasie te handhaaf.
AfriForum wys verder daarop dat die organisasie tot dusver slegs die kennisgewing oor hierdie beoogde vervreemding op die munisipaliteit se sosialemediaplatforms, soos Facebook en Instagram, kon sien. Dit is kommerwekkend dat amptelike kennisgewings moeilik bekombaar is op die metro se webwerf, wat die proses van openbare deelname verder bemoeilik.
AfriForum het bevestig dat die organisasie die situasie noukeurig sal moniteer en verdere stappe sal oorweeg indien die munisipaliteit nie bevredigend op die beswaar reageer nie.



