| | |

AfriForum vergemaklik ouers se toegang na Kroonstad-skole met veilige paaie

AfriForum se Kroonstad-tak het sedert 31 Maart reeds 10 000 kg teer gebruik om die slaggate in Senekalstraat, wat toegang tot drie plaaslike skole bied, te herstel. Hierdie projek vorm deel van AfriForum se nasionale skoleprojek wat gedurende April en Mei van stapel gestuur is en daarop gemik is om die fokus op die verbetering van skole en hul omgewing te plaas.

Volgens Johan Fourie, voorsitter van die AfriForum se Kroonstad-tak, is daar besluit om die groot aantal slaggate in Senekalstraat te takel, aangesien ouers en leerders dié pad daagliks gebruik om toegang tot Hoërskool Trio, Trio Primêr en Johan Slabbert Spesiale Skool te verkry.

Die drie betrokke skole het ook hul ondersteuning getoon deur elk ’n bydrae van 5 000 kg teer vir die projek te maak. Die herstelwerk sal na verwagting sowat 1 km van die pad voor die skole weer veilig en rybaar maak, wat ouers in staat sal stel om hul kinders veiliger by die skool te kry.

“Dit is weereens net ’n bewys dat ons as gemeenskappe ’n groot verskil kan maak wanneer ons saamwerk,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

“Daar is ’n groot behoefte om die dorp se skole op te knap, maar sonder die gemeenskap se bydrae is dit moeilik om groot sukses te behaal,” voeg Fourie by.

AfriForum moedig gemeenskappe aan om hande te vat en saam te werk om volhoubare oplossings vir plaaslike uitdagings te skep.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf