|

Potchefstroom-buurtspan laat gras spat tydens eerste bestaansmaand

Die AfriForum-tak in Potchefstroom het in die maand sedert hy ’n buurtspan op die been gebring het sy bevoegdhede behoorlik ingespan om ’n merkbare verskil op die dorp te maak. Die Potchefstroom-buurtspan het in hierdie tyd broodnodige tuin- en vullisverwyderingsdienste gelewer en selfs vir ’n week lank gewerk om seker te maak dat twee parke weer vir inwoners toeganklik is.

Op die N12 vanaf Johannesburg het die buurtspan die onkruid op die middelmannetjies uitgehaal, die gras gesny en die tuine netjies gemaak. Hulle het ook die gras op die Konsentrasiekampkerkhof se terrein gesny en die beddings bewerk ter voorbereiding van die AfriForum-tak se herdenking van Konsentrasiekampdag.

Die span het ook vullis opgetel en die sypaadjies en sirkels by die Mooirivier-winkelsentrum gesny. Die twee parke in Strydomstraat in Bailliepark het die buurtspan vir meer as ’n week lank besig gehou. Die span het nagenoeg 30 sakke vol rommel en tuinvullis gemaak, beide die parke se gras gesny, etlike beddings bewerk en die padgeute skoongemaak.

Die buurtspan het ook met ’n herwinningsprojek begin wat in samewerking met Deswalner Herwinning onderneem is. Sowat 30 huishoudings het reeds aangeteken dat die buurtspan hul vullissakke verwyder en sorteer. Dit is in ’n poging om Potchefstroom te verbeter en die las op die dorp se vol en onveilige vullisterrein te verminder.

“Binne die eerste maand het die buurtspan reeds ’n sigbare verskil in Potchefstroom gemaak. Dit is duidelik dat dié buurtspan daartoe verbind is om die omgewing te bewaar én munisipale verval teen te werk,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

“Die stigting van hierdie AfriForum-buurtspan is die eerste stap op Potchefstroom weer in ’n florerende dorp te omskep. Die doel is om in die toekoms vyf buurtspanne te hê wat Potchefstroom bedien en dit kan slegs gedoen word as die gemeenskap inkoop en besluit om op te staan teen die verval,” sê Douglas Bourn, AfriForum se voorsitter van die Potchefstroom-tak.

Raak vandag nog by Potchefstroom se AfriForum-tak en -buurtwag betrokke om jou omgewing veilig te hou. Kontak Douglas Bourn by 083 232 1020 om die buurtspan in jou omgewing in te span en Cornelia Blignaut by 073 390 4133 om by die buurtwag aan te sluit.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf