AfriForum eis dringende antwoorde oor voortslepende Mookgophong-waterkrisis
AfriForum doen ’n dringende beroep op die Modimolle-Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit om onmiddellik volledige en feitelike terugvoer aan inwoners van Mookgophong (voorheen Naboomspruit) te verskaf nadat die dorp se watervoorsiening steeds nie behoorlik herstel is nie.
Die organisasie het reeds op 29 April 2026 sy kommer oor die waterkrisis geopper nadat inligting ontvang is dat die pomp by die Frikkie Geyserdam uitgebrand het. In ’n opvolgskrywe van 4 Mei 2026 het AfriForum verdere bevindings aan die munisipaliteit voorgelê nadat ’n terreinbesoek en ’n ontleding van operasionele rekords ernstige tekortkominge uitgewys het.
Volgens AfriForum is die huidige situasie onaanvaarbaar, aangesien inwoners steeds deur watertekorte geraak word en daar nie voldoende deursigtige kommunikasie oor herstelwerk, noodmaatreëls en tydlyne aan die gemeenskap verskaf word nie.
AfriForum het reeds voorheen daarop gewys dat daar, volgens waarnemings en beskikbare operasionele rekords, slegs agt van die 21 boorgate operasioneel was. Dit het die munisipaliteit se aanduiding dat 11 boorgate operasioneel is, weerspreek. Daar is ook kommer uitgespreek oor onreëlmatige lewering by die Frikkie Geyser-pompstasie, ’n gebrek aan sigbare herstelwerk en onvoldoende openbare kommunikasie oor noodmaatreëls.
Hendrik Kotze, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo, sê die munisipaliteit kan nie bloot vae versekeringe gee terwyl inwoners steeds sonder betroubare watervoorsiening sit nie. “Die gemeenskap het die reg om te weet wat die werklike stand van die infrastruktuur is, wie verantwoordelik is vir herstelwerk, watter tydlyne geld en watter noodmaatreëls tans ingestel is om huishoudings van water te voorsien.”
AfriForum eis dat die munisipaliteit dringend skriftelike terugvoer verskaf oor:
- Die huidige status van die Frikkie Geyserdam-pomp en verwante infrastruktuur;
- die presiese aantal boorgate wat tans operasioneel is;
- die redes waarom die watervoorsiening steeds nie herstel is nie;
- ’n duidelike tydlyn vir die volledige herstel van watervoorsiening;
- die kontrakteurs, amptenare of diensverskaffers wat tans aan die probleem werk;
- die noodmaatreëls wat ingestel is om inwoners van water te voorsien; en
- die langtermynplan om soortgelyke onderbrekings in die toekoms te voorkom.
“Toegang tot water is ’n basiese reg en die munisipaliteit het ’n plig om betroubare en volhoubare waterdienste aan inwoners te lewer,” voeg Kotze by.
Indien die munisipaliteit nie dringend meetbare vordering toon en volledige terugvoer aan die gemeenskap verskaf nie, sal AfriForum verdere stappe oorweeg om die belange van Mookgophong se inwoners te beskerm.



