AfriForum-takke pak slaggate met 23 ton teer
AfriForum se takke in die noordstreek, wat Gauteng, Limpopo en Mpumalanga insluit, het van Mei tot einde Junie self openbare infrastruktuur opgeknap en in stand gehou om die sigbare verval wat gebrekkige dienslewering tot gevolg het, teen te werk.
Die burgerregteorganisasie het in hierdie tyd meer as 23 ton teer gebruik om etlike kilometers slaggate in die onderskeie provinsies op te vul. Hiermee saam is altesaam 27 padtekens by gevaarlike kruisings oorgeverf of opgerig.
De Wet Ungerer, AfriForum se hoof van die noordstreek, sê die takke het nie alleenlik op die padinfrastruktuur gefokus nie, maar ook bykans 63 000 hektaar se gras op groenstroke, in parke en aan sypaadjies gesny, wat gelykstaande is aan die sny van sowat 88 000 rugbyvelde se gras.
Rommelstrooiing is ’n groot uitdaging in digbevolkte gebiede, daarom het hierdie takke deurentyd vullis opgetel. Altesaam 4 329 sakke vullis is opgevul en na vullisterreine geneem. Hierdie broodnodige werk is aangepak as deel van AfriForum se #HerstelEnVersnel-projekte, wat daarop gemik is om alledaagse behoeftes wat gemeenskappe het, aan te spreek.




“Die swak toestand waarin sommige van die paaie was, die tekort aan lewensbelangrike padtekens en die sigbare verval van die omgewing is ’n duidelike aanduiding dat owerhede nie oor die vermoë beskik om selfs die mees basiese instandhouding te doen nie,” sê Ungerer.
“Nietemin het gemeenskappe hul kennis, vermoëns en fondse ingespan om hul woongebiede sigbaar te verbeter. Sonder gemeenskapslede se bereidwilligheid en betrokkenheid sou die verval geensins teengewerk word nie. Dit is daarom vir AfriForum van uiterse belang om hierdie rolspelers te beskerm, te ondersteun en verder te bemagtig.”
AfriForum is trots op elke projek wat ’n beter, veiliger en meer volhoubare toekoms vir gemeenskappe skep. Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog by AfriForum betrokke te raak.



