Deur Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum
Die mense wat die maklikste met die ontwikkeling van ’n taal in herinnering geroep word, is gewoonlik die letterkundiges. As jy in ons gemeenskap name soos Totius, Malherbe of Van Wyk Louw noem, weet mense van wie jy praat, maar Jan Smith laat die meeste frons en skouers optrek. Tog sou ons taal nie vandag so hoog ontwikkeld gewees het as wat dit is, as dit nie vir hierdie taalkundige en leksikograaf was nie.
Johannes Jacobus Smith is op 5 Oktober 1883 in die omgewing van Tulbagh gebore. Sy Deense voorvader het geslagte tevore aan die Kaap geland en roem as silwersmid verwerf. Smith se pa was eers ’n wamaker en later ’n boer. Smith self het skoolgegaan op die plaas Twee Jonge Gezellen en later aan Paarl Gimnasium. In 1905 het hy ’n graad in Moderne Tale aan Victoria-kollege (vandag Stellenbosch Universiteit, US) verwerf en met ’n beurs in Engeland verder in beide tale en die regte gaan studeer. Hoewel hy sy regstudies daar met sukses voltooi het, het hy nooit as regsgeleerde gepraktiseer nie.
Terwyl hy in Londen was, is hy getroud met ’n Australiese sangeres, Florence Mabel Hardy. Hulle het vier kinders gehad. Smith het haar leer Afrikaans praat en sy was so ’n goeie student dat sy in 1923 die Jaarboek vir Afrikaanse kinders gepubliseer het!
Ook in Londen het hy opnames vir die platemaatskappy His Master’s Voice van Afrikaanse lesse en gedigte gemaak. Hy was uiters begeesterd om Afrikaans te help ontwikkel en het onder meer vir Louis Leipoldt oortuig om sy gedigte te publiseer. Vir Smith was “Hoog-Hollands” ’n “dooie boeketaal”, maar Afrikaans sy moedertaal.
Vir Smith was “Hoog-Hollands” ’n “dooie boeketaal”, maar Afrikaans sy moedertaal.
Terug in Suid-Afrika het hy as professor verbonde aan US begin klasgee – aanvanklik in Duits en Frans, maar van 1919 af as eerste professor in Nederlands en Afrikaans. In dié tyd het hy ook begin voorspraak maak daarvoor dat Afrikaanse woorde bymekaargemaak moes word om ’n verklarende Afrikaanse woordeboek saam te stel. Nadat die parlement besluit het dat hierdie idee staatsteun verdien, is samewerking tussen Smith, Nasionale Pers en US formeel in 1926 bekragtig en kon werk amptelik aan die woordeboek begin. Smith het teen hierdie tyd reeds ’n indrukwekkende privaat versameling woorde opgebou. Só is die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) ’n eeu gelede gebore. Vandag gaan hierdie groot taak steeds voort, met die WAT wat deurentyd met nuwe woorde aangevul word.
Ons moedertaal se redaksiespan: J.J. Smith, Tobie Muller en Gordon Tomlinson
Die skep van hierdie omvattende woordeboek was destyds ’n reusetaak, want nie alleen moes woorde versamel en verklaar word nie, maar spelling moes in daardie stadium nog eers gestandaardiseer word. Dit was geen maklike taak nie – Smith het voorgestaan dat die spelling van Afrikaanse woorde baie na aan die Nederlandse sinonieme moes wees, terwyl ander taalkundiges ’n meer unieke spelling voorgestaan het. Dit het botsings veroorsaak, maar uiteindelik het hy hom met die eiesoortige spelling vereenselwig.
Die eerste uitgawe van De Burger (later Die Burger)
Naas taal was sy ander groot liefde Suid-Afrikaanse kuns. Hy het ’n indrukwekkende versameling skilderye besit en was selfs ’n tyd lank ’n trustee van die Nasionale Kunsgalery in Kaapstad. Verder het hy gedien in ’n komitee wat die stigting van ’n Suid-Afrikaanse museumdiens ondersoek het.
Smith het lof verwerf vir sy noukeurigheid. Buiten sy werk aan die woordeboek, het hy literêre kritiek as wetenskap in Afrikaans help vestig, asook gereeld artikels oor taalkundige aspekte van die taal gepubliseer en referate daaroor aangebied. Hy was ook werksaam as voorsitter van die senaat van US, mederedakteur van die tydskrif Ons Moedertaal (wat later Die Huisgenoot sou word), was betrokke by die stigting van die koerant wat vandag Die Burger heet, en lid van die vlagkommissie wat verantwoordelik was vir die eerste vlag van die Unie van Suid-Afrika. Uiteraard was hy ook by die vertaling van die Bybel in Afrikaans betrokke.
In 1943 het hy weens gesondheidsprobleme as redakteur van die WAT uitgetree en in 1945 volledig afgetree. Ná die dood van sy eerste vrou, is hy met Maria Wilhelmina Wicht getroud.
Smith is op 18 Junie 1949 in Kaapstad oorlede. Hy is deur Maria en twee kinders uit sy eerste huwelik oorleef.
Naas sy reeds genoemde bydraes tot Afrikaans, is nog ’n belangrike deel van sy nalatenskap die J.J. Smith-dokumenteversameling. Dit is in 2000 deur die Smith-familie aan die US Biblioteek- en Inligtingsdiens geskenk en bestaan uit korrespondensie; artikels; foto’s; manuskripte; notaboeke; radiopraatjies; toesprake; personalia; koerantuitknipsels en meer wat hy tot sy dood in 1949 versamel het. Van die notaboeke bevat interessante bydraes oor die taal van kinders, studente, bejaardes, bepaalde streke, asook die name van plekke, bome en diere. Dit word gereeld deur navorsers geraadpleeg en hou as’t ware sy stem lewendig in die ore van diegene wat vandag in sy voetspore volg.
Die burgerregte-organisasie AfriForum het tydens die derde week van sy Maand van Selfstandigheid-veldtog grootskaalse padinfrastruktuurprojekte uitgerol in Kuruman, Kathu, Marble…